Woordspel…. In die Kroeg

15 Dec

Die rook hang soos ‘n lae miswolk in die kroeg. Ek sit alleen en teug aan ‘n sigaret by een van die hoekbankies. Een van daardie bankies met die opgestopte sitplekke, met die rooi plastiekbekleedsel wat in 1975 laas beter dae (en nagte) gesien het. Ek sit alleen met my bier. Alleen, maar nie eensaam nie. ”Observeer en leer”, ”Observeer en leer” is wat die boemelaar op die bankie in die park dagliks vir die laaste twee jaar aan my gesê het. My naam is Andrè Meyer.

Elke dag tydens etensuur het ek my toebroodjies met hom gedeel. Die helfte van my middag-ete vir ’n vyftien tot twintig minute staaltjie. Stories wat Ben, dit was sy naam, voet by stuk gehou het die waarheid was. Alles, kennis versamel deur middel van observasie. Wel, natuurlik nie elke dag nie, daar was darem naweke en vakansies in daardie twee jaar, maar definitief elke dag wat ek daar op die reënboog-geverfde bankie langs hom kon sit. Die verf van die bankie was afgedop, asof in simpatie met Ben se verwaarloosde boemelaars-voorkoms. Hy het nooit ‘n enkele verhaal herhaal nie, daarvan is ek seker, want my geheue is beter as die van ‘n olifant.

Ek sit nou hier met my bier en observeer. My rookdampe smelt saam met die wolk wat onder die dak hang en ek wonder of die mense al van die nuwe rookwette gehoor het. Om een of ander rede glo ek nie hulle gee werklik om nie. Ek drink hierdie bier ter ere van Ben. Vanmiddag toe ek langs Ben gaan plaasneem het, het sy oë nie onmiddelik in blink afwagting die pad van my hand na die kosblikdeksel gevolg nie. Daar was geen blink nie, niks. Geen reëlmatige op-en-af beweging van sy borskas, en met nadere ondersoek – geen polsslag nie. Ben is dood, en daar is niemand om hierdie nuus mee te deel nie. Niemand wat saam met my ’n traan gaan wegvee nie – niemand wat saam met my ’n heildronk gaan drink op sy lewe nie, want Ben was ’n boemelaar sonder kind of kraai.

Hy het my nooit daardie storie vertel nie. Die een van hoe hy boemelaar geword het nie. Met sy afsterwe voel dit of ek nou gegradueer het. Ek moet nou self observeer. Ek moet die lesse aanwend en my praktiese eksamen begin. Net jammer die eksaminator sal my nie meer kan gradeer nie.

Ek steek nog ‘n sigaret op, en wink vir die kelnerin met die groot borste en baie kort rokkie om nog ‘n bier te bring. Observasie kom makliker as wat ek verwag het. Reg langs waar Katryn (dit is die kelnerin se naam) staan by die kroegtoonbank, sit daar ’n man met ’n swart pak aan. Dit lyk duur. Die skoene is blink gepoets en die rooi sydas vertoon netjies op die spierwit kraaghemp, onder die swart baadjie. “Power dressing” het Ben dit genoem. Hy is moontlik ‘n prokureur of advokaat. Hy vat klein teugies uit ’n glas uit. Ek sal ’n raaiskoot waag dat dit Whiskey op ys is. Johnny Walker, heel moontlik groen, dalk blou. Hy gee nie regtig aandag aan die ander kroeggangers om hom nie: ek neem aan hy ontvlug net so ‘n bietjie. Dalk wil hy bietjie wegkom van die vrou (hy dra ‘n ring) en die kinders( hy het ‘n geverfde macaroni-sleutelhouer) af.

Ek begin nou opgewonde raak. Hierdie observasie speletjie is lekkerder as wat ek gedink het. Miskien is ek ‘n natural. Ek beweeg my oë verder af langs die afgeskilferde, nat kroegtoonbank. Daar sit ‘n blondine. Ook alleen. Haar rok hang uitermatig groot oor haar skouers. Iemand mishandel haar, sy steek haar liggaam weg. Die rok het ook lang moue (moontlik om kneusplekke te versteek). Sy het moontlik my ondersoekende oë op haar (oorontwikkelde sesde sintuig as beskermings-wapen) gevoel, en toe sy omkyk en ons oë ontmoet, merk ek die effense waterigheid in haar oë, en die pad van ’n traan oor haar wang. ”Ek is reg,” dink ek ”Een of ander poephol panelbeat haar.” Ek beweeg my oë vinnig weg.

By ’n tafeltjie vir vier, sit daar ’n middel-dertigs paartjie met hulle hande inmekaargevleg. Hy in ’n denim met ’n wit t-hemp en oefenskoene. Hy lyk nie oorgewig nie, so heel moontlik doen hy een of ander tipe oefeninge. Sy is omtrent identies aangetrek en toon ook die bou van ‘n fiksheidsfanatikus. Ek dink hulle draf saam. Die park is net oor die straat so hulle bly moontlik in een van die woonstelblokke, en ja, hulle is albei nogal mooi gesonbruin. Daar is ‘n halfgedrinkte bottel Sauvignon in die vlekvrye staal wynkoeler en hulle klink hulle glasies voor hulle glimlaggend elkeen ‘n sluk neem. Ek dink die langverwagte swangerskap het gebeur. Ja, kyk net met hoeveel ys sy haar glas wyn afwater. Daar is vreugdes-trane in albei se oë te bespeur.

‘n Jongman kom die kroeg binne en gaan sit dadelik by die oop tafeltjie langs die paartjie sonder om rond te kyk. ”Hierdie een gaan bietjie moeiliker wees” dink ek hardop. Hy loer onderdeur ‘n lang pers kuif in die rigting van die kroeg om Katryn (die kelnerin) se aandag te trek. As die lig hom effens vang glinster hy plek-plek. Die outjie het die waarde van ’n koningslosprys in silwer in hom ingeskiet. Daar is ringetjies en studs oral te bespeur. Rebel, definitief, geen aandag van Pa en Ma af nie. Swart leer uitrusting. Sterk hande. Rock kitaarspeler. Ja, hy speel in een van hierdie raserige rockgroep. Metal.  

Ek sit eers vir ’n rukkie terug en steek nog ’n sigaret aan. Ek het nou vir ten minste ’n uur nie oor my eie probleme gedink nie. Die huis, kar en skoolgelde vir die kinders. Vroulief se inkopies. Kos, klere, bediende, tuinier. Dankie Ben, jou waardevolle geskenk is kosteloos, verniet. Die observasie speletjie bied tydelike ontvlugting van die werklikheid. Hoe vertel jy jou familie dat ons moet begin sente omdraai? Hoe verduidelik jy dat die besigheid kreun onder die resessie? As die luukshede ingekort word sal ons kan deurdruk. Hoe verduidelik jy dat die lekker lewe van die laaste vyftien jaar nou eers verby is? Hoe dra jy dit oor dat hulle positief moet bly, want hulle leef ten minste nog nie op ‘n bankie in die park nie? Ben het dit alles verstaan.

Terwyl ek Katryn se aandag probeer trek sit elkeen van die ander kroeggangers met hul eie gedagtes.

Die jongman in leer, Thorn, is wel die solis en hoofkitaarspeler van ’n rockgroep. Ben het hom een aand by ’n brug gered. Hy wou spring, want sy geld was op en dwelms was duur. Ben het hom by ‘n dwelmkliniek afgelaai, en drie maande daarna teruggekeer om ‘n ooreenkoms te sluit. Ben het geld voorgeskiet vir die groep om advertensies te plaas en ’n gratis konsert op sy herehuis se grasperk aan te bied. Dit was amper twee jaar terug. Die jongman het nog nooit weer ’n dwelmmiddel gebruik nie, en drink net ’n laaste heildronk op Ben, voor hy en die groep later vanaand op ’n vliegtuig klim Amerika toe vir ’n reeks konserte.

Die jong paartjie, Christo en Marie, is die eienaars van die plaaslike oefenklub. Christo was tien jaar terug Ben se persoonlike afrigter by ’n groot klub, totdat Ben geld aan Christo en Marie voorgeskiet het om hulle eie klub te begin. Ben het selfs al sy vriende na hulle toe verwys. Hulle het vanoggend hulle laaste betaling op die lening gemaak. Hulle het ’n uur terug verneem Ben is dood. Christo en Marie drink ’n heildronk op die persoon wie hulle lewens vir altyd verander het. (En ja, Marie is verwagtend, maar dit het niks met Ben te doen nie.)

Die blondine by die toonbank is Sandra, ’n eks-prostituut, wie Ben, half bewusteloos geslaan twee maande terug in die park gevind het. Haar pimp het gevoel sy bring nie genoeg geld in nie. Ben het haar by ‘n privaatkliniek ingeboek. Ben het vir haar en haar seuntjie ’n woonstel gegee om in te bly. Ben het vir haar ’n werk georganiseer. Ben het nooit ’n enkele vraag gevra nie. Ben het haar en haar kind se lewe onherroeplik verander. Een van die park se skoonmakers het haar vanmiddag gesê dat Ben deur ’n lykswa weggeneem is. ”Cheers Ben” sê sy saggies met haar glas omhoog.

Die man in die swart pak se naam is Pieter Marais. Hy is wel ‘n prokureur. Hy was die prokureur, en regterhand, van ‘n baie welgestelde, eksentrieke man met die naam Ben Ben. Hy het na die doodsnuus vanmiddag in vroeëre opdrag, dadelik die testament oopgemaak en gelees. Pieter erf Ben Ben se hele fortuin, behalwe vir tien miljoen rand wat aan ’n man met die naam van Andrè Meyer bemaak is. Snaaks genoeg is dit die man wat vir Ben gevind het vanmiddag en kon die lykshuis gelukkig ’n kontaknommer verskaf. Pieter trek sy selfoon nader. Dit is al na sewe uur, maar dit kan nooit te laat in die aand vir goeie nuus wees nie.

Ek sit en wonder oor my observasietegnieke. Ek wonder hoe reg…. of eerder hoe verkeerd ek is. Ek weet nie op die oomblik hoe reg ek oor die ander kroeggangers is, en hoe verkeerd ek oor Ben is nie. Ek neem nog ‘n sluk bier ter ere van ‘n onbekende boemelaar. My selfoon begin lui. Dit is ’n onbekende nommer. Seker weer iemand wat fokken iets verkoop. Wel, ek is in die mark vir ‘n nuwe lewe…..

26 Responses to “Woordspel…. In die Kroeg”

  1. Girl van die Suburbs Desember 15, 2009 at 9:58 vm #

    Briljant… ek is in die mark vir ‘n nuwe lewe…

  2. Joh Desember 15, 2009 at 11:33 vm #

    Gonna, hoennervleis storie, die een.

    • demoerin Desember 15, 2009 at 1:22 nm #

      Dankie…. I aim to please..

  3. Vlam Desember 15, 2009 at 12:28 nm #

    Ja-nee. Daar is baie stories in ‘n kroeg – nie almal is net daar om bloot net te suip nie. Eintlik so sad. Mens sien iets van jouself in elke kroegvlieg.

    • demoerin Desember 15, 2009 at 12:58 nm #

      Ek wonder altyd oor die mense wat ‘n hele and alleen sit en drink…. dit lyk altyd so sad.

  4. meermin Desember 15, 2009 at 12:41 nm #

    As ek mag vra hoe lank het jy getik aan hierdie post❓

    • demoerin Desember 15, 2009 at 12:56 nm #

      Meermin… so met die dinkery saam, 1 en half tot 2 ure sou ek sê.

  5. Antie Koekie Desember 15, 2009 at 1:54 nm #

    Demoerin, my kind, jou favourite Antie dink hierdie storietjie is abso-flippin-lutely BRILJANT!
    As ‘n mede skribent, wat ook daarvan hou om te kyk en te leer, te observeer en te absorbeer, kan ek net sê: “Well done!”

    • demoerin Desember 15, 2009 at 1:58 nm #

      Dankie aan die tante…… Onder die groepie Woordspel is daar nog ‘n paar…. nog komplimente meer as welkom😆

  6. Plaasjuppie Desember 15, 2009 at 2:50 nm #

    So kan ons al begin uitsien na ‘n versameling kortverhale uit die pen van DMI?

    • demoerin Desember 15, 2009 at 3:14 nm #

      Hoeveel maak ‘n bundel❓😆 Ek dink ons kort nog ‘n hele paar…… en dan altyd nog, jong ek glo nie my woordspel is goed genoeg vir publikasie nie. REGTIG nie.

  7. Tersia Desember 15, 2009 at 2:56 nm #

    Wow!! Baie dankie!

    • demoerin Desember 15, 2009 at 3:15 nm #

      Ag, solank iemand dit geniet, amper so veel as wat ek dit geniet om met die woorde te speel.

  8. Mefri Desember 15, 2009 at 7:55 nm #

    Vasgenael, sprakeloos, boepensvol geniet, sjoe, ek het vreeslik uitgemis om nie vroeër by jou ‘n draai te maak nie.

    Jou onsigbare vingers het my sitvlak vasgegom aan jou woorde, dit verdien ‘n yslike WOW‼

    • demoerin Desember 17, 2009 at 6:35 vm #

      Dankie Mefri… jy moet maar in die argiewe gaan rondkrap vir nog ‘n paar.

      • Mefri Desember 17, 2009 at 12:23 nm #

        Dankie jong, ek sal beslis daar ‘n draai gaan maak, hierdie proetjie het my honger vir nog gemaak. 🙂

  9. Sonkind Desember 15, 2009 at 10:33 nm #

    Jy het net 15 nodig vir ‘n bundel DMI. Toe-toe-toe, laat jy skryf.

    Ek like die twist at the end of the tale🙂 Ek en die Liefie sit ook altyd so en maak stories op oor mense, soos in kuierplekke en soms in ‘n coffee shop oor die verbygangers😆 Het al baie gewonder hoe na aan die waarheid ons dalk kom.

    • demoerin Desember 17, 2009 at 6:37 vm #

      😆 Sonkind… NET vyftien❓
      Ek dink ek moet daardie speletjie ook begin speel…. klink baie lekker.

  10. Johan Swarts Desember 17, 2009 at 4:11 vm #

    goed geskryf. ek is mal oor die einde🙂

    • demoerin Desember 17, 2009 at 6:38 vm #

      Ek moet sê ek het ook nogal van die een gehou…. ek sukkel so met happy endings😆 My brein werk nie lekker met happy ending mode nie…

  11. Toast Desember 17, 2009 at 6:33 vm #

    Skitterend.

    Geseende Kerfees http://die-werf.co.za/?p=4010

  12. Louwie Desember 17, 2009 at 10:40 nm #

    Baie goed gedoen man. Sal in die argiewe moet gaan krap vir die ander.
    Doen so voort!
    My eie Ben sit hier op `n straathoek. Wil nog die ou vat vir koffie en sy storie hoor. Dalk vertel ek dit eendag daar by skalkskryf.

    • demoerin Desember 18, 2009 at 6:35 vm #

      Dankie…
      Kan nogal iets wees om na uit te sien.

  13. Ek is Anna Februarie 19, 2010 at 10:42 nm #

    DMI, moenie spot oor die bundel nie… dis baie ver van onmoontlik af en dankie, Merrie dat jy my hiernatoe gestuur het.

Trackbacks/Pingbacks

  1. Best of the Best « Herriemerrie - Februarie 19, 2010

    […] Demoerin se Woordspel in die kroeg […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: