Woordspel…. Skaakmat

23 Dec

OK, dit is nou my een kans hierdie jaar om my eie ego te streel. So just live with it! Ek was die gelukkige wenner van Die Werf se skryfkompetisie (Vir lekker leesstof kan jy ook die bundel met al die inskrywings hier aflaai). Dit was groot pret, en hier kan julle die wenstukkie lees. Dankie aan Pagoda vir ‘n cool idee en al die moeite.

Hier is die ander woordspel wat ek ingeskryf het….

Skaakmat

Dit is nou week nommer twee, dag nommer tien en skuif nommer agt. Die statige Eikeboom bied ’n bietjie verligting met die blareplafon wat hy oor ons sprei, terwyl die somer oggendson ongenaakbaar neerbrand op almal en alles wat nie in skadu skuil nie. Dit is nou al die tiende keer dat ons teenoor mekaar sit, en die ondersteuners raak elke keer meer.

Die toeskouers is in twee duidelike kampe verdeel. Die wat my ondersteun en dan die wat my teenstaander, Pieter, ondersteun. Daar is nou al so tien gereeldes in elke groep, met ’n paar draadsitters wat elke dag van kamp verander. Elke oggend arriveer hulle met hulle kampstoele, leeswerk en breiwerk. Daar is varsgebak en piekniekmandjies. Daar is flesse moerkoffie en rooibostee, en flesse met ietsie sterkers in vir later.

Ek merk nou eers op hoe my ondersteuners almal in blou t-hemde geklee is, en die van Pieter in groen. Dankie tog daarvoor, ek haat groen. Miskien kan ek hulle aanspoor om more swart hemde aan te trek; dit is natuurlik as daar ’n more gaan wees.

Dit is Pieter se skuif. Hy neem sy tyd. Daar is baie op die spel. Ek wonder wat die groepies mense sal dink as hulle die volle agtergrond van die spel ken. Wat sal hulle dink as hulle weet waaroor dit gaan, as hulle besef wat op die spel is?

Definitief swart hemde vir more. Die tante met die geel opvou-stoel se grys-pers hare bots lelik met die blou t-hemp. Miskien moet sy maar liewer net nie in t-hemde probeer inwurm nie. Ek gaan dit definitief nie aan haar sê nie, want ek wil nie die beste melktertjie-maker aan die ander span verloor nie. Ek wonder of sy weer vandag van daardie tuisgemaakte gemmerbier saamgebring het?

Pieter sit agteroor uitgestrek en word deur ’n jongerige dame gelawe. Sy vee die sweet pêreltjies sorgvuldig van sy voorkop af. Die bliksem, ek wil ook ‘n jong dame in my rasie-span hê. Volgende hou sy die water-botteltjie met strooitjie uit na sy lippe sodat hy net hoef te suig. Ek bekak myself net hier toe as sy nou nog sy lippies ook gaan afvee.

Ek maak so effens keel skoon, net om die aandag weer op die bord voor ons gevestig te kry. Tien dae, en net sewe skuiwe later. Dit is minder as een per dag, en dit is Pieter se skuiwe wat dikwels so oor twee dae strek. Ek dink ons moes die reëls anders gemaak het, maar dit is ongelukkig nou te laat. Pieter moet egter besef dat ons net vier dae van die verlof oorhet wat ons by ons onderkeie werkplekke geneem het om hierdie spel te voltooi. Net vier dae oor om die oorwinnaar te kroon.

Pieter tel versigtig die Ruiter op. Die spanning is tasbaar as albei die groepies, ek inkluis, effens vorentoe leun in afwagting vir die plasing. Hy loer so half skuins na my, terwyl hy die stuk oor ‘n wit blokkie hou, met die hoop dat ek vir ‘n oomblik ‘n emosie op my gesig sal toon. Ek doen nie. My poker-gesig is goed ge-oefen. Mens kan bespeur dat Pieter ongemaklik is. Sweetdruppels versamel op sy voorkop en loop in klein stroompies langs sy gesig af. Dit is moer warm. Sonder om my oë van die bord af te haal, tel ek die glas yskoue gemmerbier langs my hand op waar die tante dit nou net neergesit het. Hemelse koel, verfrissende lafenis.

Die oom met die pyp het nie vandag sy skootbrakkie saamgebring nie. Sy rum-en-raisin tabak geur die warm lug om ons. Op sy skoot het hy ’n houtbord in die plek van die wollerige wit hondjie, en hy is besig om behendig met ’n knipmes ’n stuk biltong op te kerf en dit so bietjies, bietjies met die ander mense te deel. Almal in ”ons” span natuurlik. Ek neem ingedagte ’n stukkie van die kurkdroë kudubiltong en plaas dit in my mond. As hy die Ruiter op daardie wit blokkie plaas, het ek alreeds my volgende twee skuiwe vooruit beplan.

Pieter plaas die stuk. Almal se oë verskuif onmiddelik na my toe. Die helfte van die oë op my gesig gevestig en die ander helfte op my hand. Asems word vir die moment ingehou, in afwagting vir ‘n moontlike vinnige skuif van my kant af. Miskien het Pieter iets misgekyk. Nog nie. Hierdie kat geniet die speletjie met die veldmuis te veel.

Alhoewel my volgende skuif alreeds beplan is, voel ek tog dat ek moet bydra tot die afwagting, en moet ek maar ook bietjie toneelspel inspan om die gehoor, by wyse van spreke, waarde vir hulle geld te gee vir die opkoms na die teater. Hulle kon wel voor die televisies plaasgeneem het elke dag om derderangse oggendseepies te  kyk, eerder as om hier in angst onder die bome vasgenael te sit. Ek sien die senuagtige tannie met die diklensbril in die groenspan is weer verwoed aan die brei. Haar senuwees moet erg pla, want ek dink sy het al twintig serpe in die laaste tien dae gebrei. Totaal en al belaglik, want dit moet seker ons warmste somer in die laaste dekade wees.

Ek sit vorentoe en beweeg my wysvinger in sporadiese bewegings oor die swart en wit blokkies. Dit wil voorkom asof ek besig is om ’n groot aanslag te beplan en talle pare oë volg my vingerpunt. As hulle maar net geweet het hoe snaaks die kort heen-en-weer oogbewegings lyk, grynslag en in my binneste vir myself. Daar is een paar oë merk ek op wat iewers anders gevestig is.

Dit is die oom met die spierwit hare en Jan Smuts-bokkie baard; wat so links van my sit met ‘n blou t-hemp aan. Die bokkapater! Hy is besig om ogies te maak vir die tante met die breiende hande. Die vyand! Dit is verraad! Ag tog, miskien kom daar ten minste iets goeds uit hierdie oorlog uit. More is hy seker in die groenspan, met ’n groen trui aan wat sy sommer nog vanmiddag uit daardie breinaalde gaan optower. Sy nek gaan ten minste nie koud kry die komende winter nie. Die idee laat my glimlag en die toeskouers verwag natuurlik dadelik weer ’n doodslag. Laat ek tog net my skuif maak.

Ewe traak-my-nie-agtig tel ek die Loper op en plaas hom in ’n swart blokkie. ”Skaak” kom dit oor my lippe, net om die spanning so bietjie dikker aan te maak, en die dag-uitstappie vir die mense die moeite werd te maak. Pieter is visueel geskok en die jong dame lawe vir al wat sy werd is. ‘n Lang, maer tannie met hoerrooi lipstiffie plak ‘n ham-en-kaas broodjie voor kom neer. Die versterkings word nou uitgepak, en ’n oom daar in die groenspan agterhoede neem ’n teug uit ’n verdagte silwerflessie uit.

Net vir die effek trek ek my lippe in ’n skewe glimlaggie. Die tannie met die pers-grys hare verstaan heel duidelik nie die spel ten volle nie, en het met ’n spontane gejuig uit haar stoel opgespring, gereed om die oorwinning te vier. Dit het ’n groot en sterk ou oom gevat om haar terug te kry in haar stoel, en ’n oom met ’n oud-professor-voorkoms gevat om saggies in haar oor die reëls te verduidelik ter kalmering. Ons is nog nie daar nie. Die soetse oorwinningsvieringe kom vir die geduldigdes.

Ek wonder wat dink Pieter. Ek wonder wat sou Janine sê as sy geweet het van hierdie tweegeveg? Ek hoop nou net nie die skok van “skaak” veroorsaak dat Pieter nou eers weer more ‘n skuif gaan maak nie. As ons vandag kan klaar kry, kan ek darem die laaste paar dae van my verlof op ‘n strand gaan deurbring. My web is gespan, en met geduld sal ek wag dat hy daarin vasval. Tot my verbasing wil Pieter ook heel moontlik hê dat hierdie pot nou moet klaarkry, want toe ek weer kyk sit hy al klaar met een van sy wit Torings in die hand.

Die jongerige dame het nou ‘n missproei-spuitkannetjie in die hande gekry en het nou binne die laaste tien sekondes vir Pieter papsop-waternat gespuit. Pieter kyk my in die oë. Kan dit wees. Bespeur ek opgee daarin? Opgee met ’n tikkie uitdaging daaragter? Hy plaas die Toring in ’n blokkie wat voor die handliggend nadelig vir hom sal wees. Hy kyk op, glimlaggend, met uitdaging wat uit sy staalblou-oë straal. Die twee spanne snak na hul asems. Party toeskouers snak na asem want hulle kan nie verstaan dat Pieter so ‘n ooglopend verkeerde skuif kan maak nie. Party toeskouers snak weer na hul asem want die kyk in Pieter se oë verklap dat daar meer as net ‘n oorwinning op die spel is. Die res snak na hul asem, want dit is wat die ander toeskouers gedoen het, en hulle wil nie simpel voorkom nie.

Duiweltjies dans ‘n uitlokkende toi-toi in sy oë. Die troef is nou in my hande. Ek is dus die een wat die besluit moet maak of hierdie pot tot ‘n einde gaan kom of nie. Ek moet besluit oor hoe hierdie tweegeveg gaan eindig, en wie as oorwinnaar uit die stryd gaan tree. Snaaks genoeg het ek Pieter minder as twee weke terug ontmoet, toe ek per ongeluk in hom vasgeloop het toe hy oorhaastig, en ongesiens, by Janine se voordeur probeer uitsluip het. In die laaste tien dae het ek egter respek vir hom ontwikkel, die tipe respek wat tot ’n boesemvriendskap kan ontwikkel. Eintlik is ek nie meer so bekommerd oor Janine nie, die feit dat sy ons met mekaar verneuk het maak haar in elk geval net ’n slet. En was dit net ons twee? Daar is ook geen waarborg dat dit nie weer sal gebeur nie.

Ek tel my Dame op en skuif haar in ‘n besette swart blokkie in, waar ek die okkuperende Toring met ‘n flik van my gewrig omstamp. ”Skaakmat” kom die woord gepaardgaande met ’n glimlag oor my lippe. Die oorwinning is nie meer so soet as wat ek tien minute terug nog verwag het dit gaan wees nie. Eintlik is dit bitter; Janine is die bitter pil wat ek en Pieter moes sluk. Die blou span wens mekaar opgewonde geluk, asof hulle almal deel aan die oorwinnings-skuif gehad het, terwyl die groen span die teleurstelling uit Pieter se skouers probeer klop. Woorde soos “Beste uit drie”, “Maak ons more weer so?”, “Oorspeel” en “Nog ‘n rondte” word rondgeslinger. Hulle verstaan definitief nie die impak van hierdie skaakpot nie.

Die toeskouers verkas slegs na ons plegtige beloftes dat hulle net gereeld onder die Eikeboom moet kom loer, vir die dag as die tweede uit die drie skaak potte sal begin. Min wetende dat ons nou net alleen wil wees. Ek en Pieter sit elkeen met ‘n bier in die namiddagstilte en tuur oor die groen grasperke van die park. Pieter kyk na my met die gedagte in sy oë gebytel dat die oomblik nou aangebreek het. Daar kan net een wenner in ’n tweegeveg wees. Daar is in elk geval net een prys, Janine.

Pieter steek sy hand in sy rugsak en haal ’n blink pistool uit. Met die motoriese aksies van ‘n behendige skut maak hy seker die wapen is gelaai, en dat die veiligheidsknip af is. Hy oorhandig die pistol aan my en gaan staan op sy knieë voor my. Dit was ons ooreenkoms, een wenner met een trofee.

Hy kyk my reguit in die oë. Ek mik tussen sy oë, daar waar die fyn haartjies van sy donker wenkbroue bymekaarkom. My vinger is gesluit om die sneller. Ek sit die veiligheidsknip weer aan. Ek kan nie. Dit is nie lafhartigheid nie, maar respek. Hierdie man verdien verdien die respek wat Janine met haar hoereerdery versmaai het.

Ek steek my hand uit en trek vir Pieter op. ”Kom my vriend, hierdie tweegeveg het twee wenners, ons moet daardie trofee gaan uitsorteer.”

20 Responses to “Woordspel…. Skaakmat”

  1. meermin Desember 23, 2009 at 7:01 vm #

    Môre jy …. skaak ek weet nie eers hoe om ‘n skaak bord reg te pak nie, Jaco was al skaak kampioen geniet jou dag!

  2. Girl van die Suburbs Desember 23, 2009 at 8:13 vm #

    Jis, maar ‘n vrou is ook altyd ‘n bliksem in jou stories? Ek dink jy het dit anders om! :mrgreen:

    • demoerin Desember 23, 2009 at 8:53 vm #

      Maar is dit nie so nie❓

      • Girl van die Suburbs Desember 23, 2009 at 12:07 nm #

        Nee oukie…. die gesegde lui… ‘n man is ‘n bok en ‘n bok is ‘n bliksem! 😛 😛 😛

        • demoerin Desember 23, 2009 at 12:16 nm #

          Daar bestaan nie so ‘n gesegde nie, dit is opgemaak deur ‘n vrou wat nie haar sin kon kry nie😆 Bwahahahahahaha

          • Girl van die Suburbs Desember 23, 2009 at 12:23 nm #

            Issie…. statisties cheat mans meer as vrouens… Kyk nou maar vir ou Tiger! 😉

            Nie een van daai tjerries was getroud nie! 🙄

          • demoerin Desember 23, 2009 at 1:18 nm #

            Dalk het hulle op hulle boyfriends gecheat… en terwyl dit lekker was het ek nie een van hulle hoor kla nie… takes two 2 tango….😆

  3. Antie Koekie Desember 23, 2009 at 1:08 nm #

    Haal af die hoede, hier gaan ‘n held verby! Well done, DiMin, wed jou jy smile vandag van oor tot oor—- ek sou, as ek si gelukkig was. Sal graag wil probeer.
    Gaan bietjie later rustig lees, battle nou eers met FF se ads.

    • demoerin Desember 24, 2009 at 6:36 vm #

      Natuurlik smile ek van oor tot oor, en wen nooit niks niks…. en nou wen ek nogal iets oor my hannewerk.

  4. Pagoda32 Desember 23, 2009 at 3:39 nm #

    Jy verdien dit. Dit kos baie om my ma se gat in ‘n skryfkompie te skop!! En jy het!😉

    • demoerin Desember 24, 2009 at 6:36 vm #

      Sê jou ma – No hard feelings… netnou hunt sy my down… hehehehehe

  5. ekisanna Desember 23, 2009 at 4:19 nm #

    Wow, Geluk man. Jou storie het my herinner aan my Pa en ons buurman, Oom Frikkie van Tonder, se maraton stryde om die dambord onder die popelierbome. As jy ernstig wou sien, moes jy hulle gesien het. Nou gaan ek eers die wenstorie lees.

    • demoerin Desember 24, 2009 at 6:35 vm #

      😆 Ek kan nogal die prentjie hier in my kop picture ja…

  6. RandomNumberZero Desember 23, 2009 at 8:27 nm #

    Respect.

  7. Sonkind Desember 23, 2009 at 9:14 nm #

    WoW, hierdie een is net so goed! Ek het gister al die bundel afgelaai en lekker hier in die hitte le en lees🙂

    • demoerin Desember 24, 2009 at 6:34 vm #

      Ek het net so lekker aan daardie bundel gelees…..

  8. ekisanna Desember 24, 2009 at 7:08 vm #

    Ek het ook die bundel gesoek en kon dit nie kry nie. Help asseblief, ek is soooo nuuskierig.

    • ekisanna Desember 24, 2009 at 7:12 vm #

      Toemaar, toemaar, ek het dit gekry. Soos ‘n mini-kersgeskenk.

    • demoerin Desember 24, 2009 at 7:12 vm #

      In die tweede sinnetjie daarbo is ‘n link na Die Werf.
      Jy kan dit in daardie post aflaai.

      • demoerin Desember 24, 2009 at 7:13 vm #

        😆 Ooopsss… toe is jy te vinnig… hehehe

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: