Woordspel… Die Terroriste Inval

22 Feb

Die Terroriste Inval

Daar sit ons toe nou. ‘n Groepie tiener-neefs, en een niggie. Gewapen tot die ore met .22 gewere (vir die bobbejane) en een Uzi (vir die terroriste), in die middel van die winter, elkeen op ‘n klip in ‘n koelteboom se skadu. Vandag gaan daardie bobbejane kak as hulle dit waag om hulle blinkgatte en sterte aan hierdie kant van die rivier te kom swaai. Die tamaties is nog nie lekker ryp nie, maar kees-se-kind gee nie om nie, want hulle pluk, byt en spoeg uit soos wat hulle partytjie in die tamatieland. En hulle doen dit oor en oor…. ook maar lekker stupid, want as die eerste twintig nie ryp genoeg was nie, ag toemaar….

Vakansies op die plaas was die lekkerste lekker. So tussen twintig en dertig mense saamgetrek op die plaas daar langs die Limpopo, so ‘n uur se ry van Alldays af in die rigting van Pondrift. In Julie vakansies het ons gejag, katoen geweeg en tamaties blinkgevryf en kassies aanmekaargeslaan, in die Desember vakansies het ons waatlemoene gepluk en gehoop vir die snikhete dag om verby te gaan dat ons vyfuur kan gaan swem. Ons kon darem altyd ‘n tydjie afknyp om in twee spanne te verdeel en klontoorlog te hou in die nuut-geploegde lande. Na die vakansies het die blou-en-pers kolle mooi verduideliking gekos om nie die welsyn-klop aan ons ouers se voordeure te hê nie.

Oom Bill en Oupa het ons met die bakkie afgelaai by die tamatieland: hulle oppad na die buurman vir ’n koffie-kuier, bespreking van more se jaarlikse Kerkbasaar op Alldays en die daaglikse vee van die paaie deur die weermag (jy mag nêrens in die oggende gegaan het voordat die weermag nie die paaie langs die drade by die rivier vir landmyne en terroris-aktiwiteite gefynkam het nie). Die Limpopo was droog. Ek het gewoonlik net een keer ‘n jaar daardie rivier sien vloei, en dit was as daardie rivier met ‘n malende gedruis van bome in Desembers afgekom het.

So sit ons en die bobbejane mekaar toe en dophou oor die droë loop van die rivier. Die bobbejane half uitdagend, asof hulle geweet het hulle was veilig in ’n ander land vol gewapende terroriste, ons afwagtend want ‘n tiener met ‘n geweer in die hand wil bloed sien vloei.

Die bobbejane het sekerlik geweet hulle is die rede hoekom ons in die koelte gesit en sweet het, want hulle het net daar gesit en ons dophou, half vermaaklik in beheer van die speletjie. Ja, winters in die verre destydse Noord-Transvaal se dagtemperature laat die kwik gereeld tussen 25 en 30 grade draai, maar ons moes maar sit en die takie verrig angesien ons nooit ’n enkele sent hoef te betaal het vir die wild wat ons geskiet het nie. Die stofwolk en gedreun van ’n bakkie vanaf die rigting van die buurplaas is die meeste opwinding wat daardie laaste bykans twee ure langs die tamaties gebeur het, en ons het in afwagting gesit en wag vir die twee oues om verby te kom.

Die gedreun van die bakkie in die verte het egter sagter geword en die stof het gaan lê. Hulle het tot stilstand gekom. Snaaks. Dit is toe dat ons die geweerskote hoor. Die bakkie trek toe weer weg, maar in die rigting vanwaar dit toe net gekom het. Ons het besef iets groot is fout. Die enigste logiese afleiding in daardie stormagtige tyd uit die Suid-Afrikaanse geksiedenis was…. terroriste. Dit moes terroriste wees, en ons het dadelik besef dat ons by die opstal moes uitkom, sodat die polisie per telefoon en die weermag per radio laat weet kon word. Fok die tamaties.

Die kortste pad huis toe was seker sowat twee kilometer deur ’n nuut-omgeploegde land. Dit was toe ons net weggespring het wat ons die swart man sien hardloop het in ons rigting…. vanuit die rigting waar die bakkie in ’n stofwolk in die ander rigting beweeg. Nou kyk, as ’n swartman wat heel moontlik ’n terroris is op jou afgehardloop kom, staan jy nie rond en wag jy nie om hom te groet nie. Daar is ook nie tyd vir stop en laai en skiet nie. Die terroriste is besig om Suid-Afrika in te val, en ons moes die res van die land daarvan laat weet.

Nou kyk, ek weet nie of julle al deur sulke omgeploegde lande die 100 meter naelloop oor 2 kilometer probeer doen het nie, met drade wat so elke honderd meter oor-of-der-geklim moet word nie.. Ek kan vandag die brand in my longe en krampe in my beenspiere voel. Maar so hardloop ons toe nou met die terroris agter ons aan. Nou moet ons ook seker maak ons groepie van 8 bly bymekaar, sodat een van ons nie dalk agterraak en in die terroriste se hande beland nie. Miskien is dit die stories van marteling wat ons gehoor het, wat aan ons die aansporing verleen het om dit voluit tot by die opstal te maak.

Ons snal toe in by die voordeur, al gillende in topvolume ’n deurmekaargebrabbel van ”Oom Bill”, ”Oupa”, ”Terroriste”, ”Inval”, ”Aanval”, ”Skote”, ”Polisie”, ”Weermag” ensovoorts. Die adrenalien het oorgeneem en ons is nou gereed om oorlog te maak. Die mense in die huis het ons probeer bedaar, maar ons het al klaar begin stelling inneem by die vensters gereed om die witwaks uit die terroriste uit te blaas. Ons kon egter nie verstaan hoekom almal ons so half snaakserig, en heel kalm aankyk nie, en ons kon ook nie meer die terroris wat ons agtervolg het buitekant gewaar nie en niemand het hulle vinnig na die telefoon of radio gehaas nie. Die kyke wat ons gekry het was so ‘n mengelmoes van lag en huil.

Dis toe dat Tannie Paula uitbars van die lag, dat ons heel verontwaardig besluit om hulle deur die huis, by die agterdeur uit te volg. En daar sit hulle toe, Oom Bill en Oupa, rustig en in lewende lywe onder die groot koelteboom, besig met ’n beker boeretroos. Teen die volgende oggend by die kerkbasaar het almal natuurlik toe nou al van die terroriste inval gehoor, en verwys sommige van die boere vandag, meer as twintig jaar later, nog speels daarna….

Die werklike gebeure was as volg:

Oom Bill het sy hoed by die buurman vergeet, en omgedraai om dit te gaan haal. Die geweerskote was die buurman wat sy teleskoop op ’n teiken ingeskiet het en Oupa en Oom Bill het besluit om toe met ’n ander pad om huistoe te ry. Die bobbejane het moontlik ook hulleself boeglam geskrik toe ons soos springhase die veld in is, want hulle het nie daardie dag in ons afwesigheid naby aan die tamatieland gekom nie.

Tot vandag toe weet ons nog nie hoekom die plaaswerker Johannes, aka ”Die Terroris”, al die pad agter ons aangehardloop het nie…. maar ek dink die Engele het hom daardie dag bewaar, weens die feit dat ons nie daar en dan, langs daardie stofpad, besluit het om oorlog teen die terroris(te) te verklaar nie.

15 Responses to “Woordspel… Die Terroriste Inval”

  1. Xena Phoenix Februarie 22, 2010 at 9:19 vm #

    😉 😆

    My pa het in die dae van sy jeug weer ‘n vrou gesien wat onder ‘n draad probeer kruip het. Sy het toe boonop vasgesit. Hy was vas oortuig dat dit ‘n spook is. Toe probeer hy die spook wegslaan met n sambok. Dit het gewerk, maar wat van die arme vroue geword het weet niemand nie.

  2. Flintie Februarie 22, 2010 at 9:20 vm #

    😆

    Lekker warm klop my hart nou, mooi storie geskryf hier demoerin!!

    • demoerin Februarie 22, 2010 at 10:27 vm #

      Daardie vakansies is van my gunsteling herinneringe.

  3. Sharpshoot Februarie 22, 2010 at 12:39 nm #

    BWAHAHAHAHAAHAAAA! Klink na awsome tye op die plaas! Ek sal wat wou gee dat my kinders ook eendag sulke vakansies kon ervaar!

    • demoerin Februarie 22, 2010 at 12:49 nm #

      😆 Ja ons lag ook nou daaroor, maar daardie dag was dit definitief nie so snaaks nie.

  4. ellablou Februarie 22, 2010 at 2:08 nm #

    Oe, lekker lag ek nou! Nee kyk, op ons Karoo-plaas gebeur daar nie sulke exciting goed nie. Ek het wel eenkeer ‘n alleenloper bobbejaar moes jag met ‘n .243 toe net ek en twee van my stadsvriende op die plaas was… in my pienk pajamas! Gelukkig het ek hom nie gekry nie!🙂

    • demoerin Februarie 22, 2010 at 2:34 nm #

      😆 Klink of dit ook ‘n lekker storie kan wees.

      • ellablou Februarie 22, 2010 at 2:49 nm #

        Sal dit moet vertel in omtrent 50 woorde. Dit was eintlik heel onavontuurlik… Die bobbejaan het verdwyn… Sal bietjie kyk of ek dit kan skryf some time.

  5. Gogga Februarie 22, 2010 at 4:14 nm #

    Lekker lekker lekker.
    My gedagtes van so nael deur die geploegde land het ook ‘n bobbejaan in die herrineringe.
    Nou kan ek nie eers oor ‘n mat kaalvoet loop nie maar daai tyd kon ek die dorings en die mielie stronke nie eers voel nie.

    • demoerin Februarie 23, 2010 at 6:58 vm #

      Presies, sorgelose vryheid…. ek mis dit nogal, en ek wens elke kind vandag kon dit nog beleef.

  6. cat@juggling act Februarie 22, 2010 at 4:22 nm #

    Ag vrek , nou wie anders as ‘n kind van die 70 of 80s sal hierdie so goed kan inleef soos ek?

    • demoerin Februarie 23, 2010 at 7:00 vm #

      En tog dink ek het ek elke oomblik van my jeug ten volle geniet. ‘n Woord soos “verveeld” of “bored” wat ek dikwels by vandag se kinders hoor, was glad nie deel van my woordeskat nie.

  7. keatra Februarie 22, 2010 at 8:20 nm #

    whahahah.. nee kyk ek is bly ek het jou blog afgekom ek like vd manier of jy jou ding se ..so reg in my kraal ..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: