Woordspel… Elke Feesmaal Het Poeding

20 Jul

Elke Feesmaal Het Poeding

‘n Ligte briesie ritsel deur haar blonde kuif teen haar voorkop.

Anna se helderblou oë verklap haar verlustiging in die beeld voor haar. ’n Siniese glimlag speel om die hoeke van haar skarlakenrooi lippe.

Wian lê kaal voor haar op ’n blou-en-groen geruite piekniekkombers tussen die rye wit rose in die middaghitte.

Anna voel die sagte briesie om haar naaktheid vou terwyl sy in Wian se verskrikte groen oë staar. Nie net is sy in haar evasgewaad nie. Nie net is haar naaktheid op hom gerig nie. Anna klem ook behendig ‘n stomp enkelloop-haelgeweer in haar hande vas, gerig op Wian… of sal ons sê meer spesifiek in Wiantjie se rigting? Met ‘n speelse glimlag in Wian se rigting spreek Anna die woorde wat sy nou al vir twee weke oefen:

“Dis jammer om te dink dat jou laaste “kopskoot”, ‘n skoot van my af gaan wees”. Haar klokhelder lag wat eens ‘n magneet vir Wian was, weergalm nou soos ‘n skreiende doodsgesang oor die vlaktes. Dit is stil. Selfs die voëls toon hulle respek.

Selfs in die panarie waarin hy homself bevind kan Wian nie help om Anna se skoonheid te bewonder nie. Die perfekte gesig, op ’n tien-uit-tien songebruinde, slanke lyf. ’n Lyf en gesig wat al in die baarmoeder gevorm was vir die wêreld se loopplanke. Anna was die Europese en Amerikaanse modebase se uitgekose topmodel, en sy het ook hy wat Wian is, gerespekteerde multi-biljoenêr, se voete heeltemal onder hom uitgeslaan. Anna was op elke glanstydskrif se voorblad en het advertensieborde in Time Square en Picadilly Circus versier. En sy het hom gekies!

”Maar Anna my lief….” stotter hy. ”Lief se gat” val Anna hom in die rede, as sy weer uitbars van die lag.

”Ai, ”liefste” Wian, dat jy aan die hoof van ’n multi-internasionale konglomeraat se stuur staan, of eerder gestaan het, gaan my verstand te bowe!” tart sy weereens met daardie tergende lag wat deur Wian se vlees sny. Dit was so maklik vir Anna om haar onwetende slagoffer uit te kies. Wel eintlik het Wian soos ’n liefsiek hondjie in haar skoot beland. Sy het nie regtig te veel gedoen om sy aandag te trek nie.

Anna het nog altyd geweet sy is onweerstaanbaar mooi, en ook presies hoe om dit tot haar voordeel te gebruik. Sy het sommer op hoërskool al die kuns bemeester om die onderwysers (en soms selfs onderwyseresse) om haar pinkie te draai, al het dit soms spesiale gunsies gekos. ’n Lang string van onderwysers, en later selfs lektore, het op haar slagveld gesneuwel. Mans is tog so maklik beinvloedbaar, dink altyd met die kop en nie met die hoof nie.

”Maar Lief… Anna, ek verstaan nie” ’n Traan loop oor Wian se wang, nie net uit hartseer of vrees nie, maar ook moedeloosheid omdat hierdie vrou, selfs in hierdie situasie aan hom ’n ereksie kan besorg. Anna se lag klink weer hard op ”Is dit nou om my ’n beter teiken te gee?” Wian dink moedeloos aan hoe hy sy hart vir hierdie vrou oopgemaak het. Aan hoe hy haar versorg en vertroetel het toe sy die loopplank vervaldatum bereik het. Hy dink aan hoe gelukkig sy hom gemaak het. Aan hoe totaal en al lief hy vir haar is. Aan hoe ’n totale swaap hy skynbaar is. Oorseese vakansies, diamante en platinum, aantrekkamers vol labels, alles wat haar hart begeer het… net sodat sy gelukkig kon wees.

Die son weef goud in Anna se hare waar sy afkyk op Wian. ‘n Gebroke man. Sy moet erken dat sy dalk ‘n bietjie vir hom begin val het. Dat hy dalk selfs ’n stukkie van haar bevrore hart ontvries het. Anna vee blitsvinnig die stroperige gedagtes tussen die as van hulle ”verhouding” in. Daar is nie nou plek vir sentimentele herinneringe om hierdie tafel nie. Dit het twee lange jare geneem om hierdie tafel te dek. Sy wil nou aansit by die feesmaal.

Haar lewe besaai met oesters en Franse sjampanje lê voor haar en wink op die horison. Dit was maklik om Wian se hart te verower, om sy liefde te wen. Dit was egter moeiliker om hierdie suspisieuse besigheidsman se volle vertroue te wen. Dit het presies twee weke kort van twee jaar geneem om hom te oorreed dat sy totale besigheids belange veiliger in haar naam sal wees. ’n Spoegseltjie op ’n slag het hy Wian Internasionaal in haar naam oorgeteken. Vir twee jaar lank het hierdie prinses die ondergang van haar prins, en sy wit perd, beplan.

”Is dit hoekom ek alles in jou naam moes oorteken? Sodat jy my moer toe kan skiet en in weelde kan lewe?”

”Ai ou ”liefie”, dit spyt my om dit nou in jou gesig te erken, maar ja, dit was my plan van dag een af. En hierdie setting tussen die wit rose het ek net gedink sal ’n spesiale, nee wag, dalk interessante bydis vir die hoofmaal wees.” Wian staar in ongeloof na haar perfekte wit tande, ontbloot deur haar sensuele, vol glimlag. Hoe het sy dit reggekry om hom so om die bos te ly? Was hy so deur sy liefde vir hierdie vrou verblind dat hy nooit besef het sy prinses is eintlik ’n feeks nie? In die besigheidswêreld het hy met onverskrokke bullebakke afgereken, maar hierdie beelskone nimf het hom ‘n rat voor die oë gedraai.

Die staal in haar blou oë laat Wian besef dat daar geen keer in Anna is nie. Sy het haar besluite lankal geneem. Anna het haarself aan die voete van Mamon gewerp. Snaaks genoeg is dit nie vrees wat Wian se hart ontklem nie, maar ‘n vrede, wat selfs ‘n glimlag na sy lippe bring.

Die glimlag oor Wian se lippe het Anna onmiddelik geirriteer. Dit laat haar ongemaklik voel, in teenstelling met haar voorheen doelgerigte, oorlogs-naaktheid. Skielik met die hele sak patats op die tafel uitgegooi, voel sy kaal, weerloos. Selfs skaam.

Wian se skielik hartlike, koggelende lag was al wat nodig was om haar in aksie te laat oorgaan. Hoe kan hy lag in hierdie situasie, waar sy, Anna, in beheer is? Waar sy, Anna, met die geweer in die hand staan? Anna verskuif haar mik na sy bors toe, en kners op haar tande as sy haar vinger om die sneller begin krul. Dit ontstel Anna dat die sweetdruppels op haar voorkop glinster. Dit ontstel Anna dat haar hande die is wat bewe. Selfs die Kakelaars in die bome koggel haar nou.

Bietjie vir bietjie trek sy die sneller in met ’n glimlag op haar lippe. ”Dankie Wian vir ’n wonderlike twee jaar. Dankie Wian vir ’n weelderyke res van my lewe!”, skree sy dit hardop. Die verskrikte voëls vlieg uit bome op as die oorverdowende knal afgaan. Die gat in Wian se bors fontuin bloed die lug in met sy hart se laaste klopslae. ’n Hart in stukke wat eens aan die beeldskone Anna behoort het.

Die maaltyd is verby. In ‘n oogwink is sy lewensglas aan skerwe.

Klein spatseltjies rooi verf die spierwit rose. Daar is nog steeds ‘n, nou versteende, glimlag om Wian se mond. Half tartend. Wian se laaste gedagtes was die soete poeding. Anna het vergeet dat elke feesmaal met poeding afsluit.

Wian was heeltemal lief vir haar, maar nie heeltemal onnosel nie. Die oorgetekende “konglomeraat”, was eintlik maar net ‘n aantal onaktiewe rakmaatskappye. Leë opskepbakke vir hierdie feeksprinses se maaltyd. Sy het die gans wat die goue eiers lê geslag vir hierdie feesmaal.

15 Responses to “Woordspel… Elke Feesmaal Het Poeding”

  1. Gielie Geelmielie Julie 20, 2010 at 8:36 vm #

    LOL, dink haar poeding proe bitter…

    • demoerin Julie 20, 2010 at 10:15 vm #

      Hehehe, ja tjops… roomys met galsous.

  2. Dellie Julie 20, 2010 at 9:49 vm #

    Nice! Ek is bly jy skryf weer!😉

    • demoerin Julie 20, 2010 at 10:14 vm #

      Hehehe, ek ook. Bietjie van hierdie idees in my kop ontslae raak.😆

  3. Xena Phoenix Julie 20, 2010 at 11:32 vm #

    Net die opskrif is genoeg om my honger te maak.

    Maar nie vir daardie ete nie.

    • Xena Phoenix Julie 20, 2010 at 1:14 nm #

      Ek is wel bly dat Anna met niks gaan sit nie.

  4. anne-marie Julie 20, 2010 at 2:35 nm #

    Ooo! Wicked!😈

  5. BB Julie 20, 2010 at 4:18 nm #

    😯 Nou wil ek net eers weet wie sy eiers gaan erf!?!?!

    • demoerin Julie 20, 2010 at 4:23 nm #

      Kom ons gis daaroor…..
      Sy vrou, eintlik was hy nog altyd getroud😆

      • BB Julie 21, 2010 at 8:42 vm #

        😯 die ou bl!ksem!!👿

  6. BB Julie 20, 2010 at 4:20 nm #

    😳 Ek bedoel die eiers!

  7. ekisanna Julie 20, 2010 at 6:33 nm #

    Moes jy nou “Anna” vir ‘n naam kies? Hoe moet ekke nou voel:mrgreen:

    TEN SPYTE DAARVAN… lekker gelees!

    • demoerin Julie 21, 2010 at 12:45 nm #

      Sorry anna😆 sal nie weer nie.

  8. meermin Julie 21, 2010 at 1:41 nm #

    Middag jy besoek gerus hierdie link http://meermin.wordpress.com/2010/07/20/skoonma/

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: