Vrydagskool…Oupa en Ouma Dag

19 Nov

Dit is vandag Oupa en Ouma Dag by die skool. Ongelukkig vir die meeste van ons, het ons nie meer die voorreg om hulle hier te hê vandag nie… maar tog kan hulle in gees, en in nostalgiese herinnering saam met ons wees vandag.
Ek het nooit my Pa se Pa geken nie, en sy Ma is oorlede toe ek nog baie klein was. My Ouma en Oupa aan my Ma se kant, het egter dubbel en dwars daarvoor opgemaak, en ons is gelukkig om vandag nog hierdie Oupa saam met ons te hê.

 

Ek het eers later jare besef oor hoe gelukkig ons was om ‘n hegte familie te hê. Ons is ses kleinkinders, 2 uit elk van 3 gesinne. As niggies en nefies het ons na dieselfde laerskool toe gegaan, en daarna na 2 verskillende hoërskole. Ons het elke Sondag by Ouma en Oupa geeët, of almal saam na ‘n restaurant gegaan.

Wat ek die meeste onthou, is hoe wonderlik hulle ondersteuning was. Oupa en Ouma was by elke skoolfunksie, konsert en sportgeleendheid van elke kleinkind vanaf kleuterskool tot hoërskool. Ek kan hulle nog uit laerskooldae op die opvoustoele onder die sambreel sien sit as daar atletiek, rugby of netbal was. Selfs nadat die laaste kleinkind uit die hoërskool uit was, was sy kar nog gereeld by die skool gesien as daar rugby of atletiek was.

Ons was vrot bederf, maar het ook geweet om nie die grense te veel te probeer toets nie, want ‘n plathand op die regte tyd was nie ongehoord nie. Ek was werklik gelukkig, al het ek net een Ouma en een Oupa geken. Die anderdag toe dink ek, in my 35 jaar, wat is die een ding wat ek altyd van my Oupa sal onthou. en sonder om te hard hoef te dink het hierdie gedagte dadelik by my opgekom: Ek het hom nog nooit, vir solank as wat ek hom ken, ‘n slegte woord van enige persoon hoor sê nie.

Sy gesondheid is ook nie meer wat dit altyd was nie, maar hy is darem al 88 jaar oud, maardie ander dag sê hy vir my oor hoe ‘n seën dit vir hom is dat hy 6 kleinkinders, 9 agterkleinkinders en 1 agter-agter kleinkind het… nie eers te praat van die vonkel in sy oë oor die ander 2 agterkleinkinders wat oppad is nie…. sowaar ‘n geliefde man – as hy maar net weet hoe geseënd ons is om hom te ken.

7 Responses to “Vrydagskool…Oupa en Ouma Dag”

  1. BB November 19, 2010 at 7:40 vm #

    Blessed indeed! Silwer in die hare en goud in die hart…
    Gore Vidal het gesê: “Never have children! Only grandchildren!”

  2. rosalindreloaded November 19, 2010 at 4:29 nm #

    Dis nice, dis nie kwantiteit wat belangrik is nie maar kwaliteit. My ma is al ouma en glo my sy maak op vir almal wat nie meer daar is nie.
    ‘n Ouma en/of Oumpa moet aan jy kant wees 😉

  3. Toortsie November 19, 2010 at 6:13 nm #

    Oumas en oupas is die wonderlikste goed wat kinders voor kan vra. Gelukkig is kinders wat die voorreg het om saam met hul grootouers tyd kan spandeer

  4. Son November 20, 2010 at 12:11 nm #

    Ek het twee oumas en een oupa geken. My ma se ma was my harts-ouma. I loved her to bits! Sy is dood toe ek 19 was, maar in my hart lewe sy vir ewig. En dit mag weird klink, maar as dinge taai gaan in my lewe, kom kuier sy in my drome, so asof sy my wil toemaak in ‘n trooskombersie. Ek het ook nou nog ‘n kombersie wat sy my gegee het toe ek 12 was. Nou het ek sommer heimwee 😦

  5. demoerin November 22, 2010 at 7:19 vm #

    Yip, ek dink elke kleinkind wat ‘n ouma en oupa kan ken, is baie bevoorreg, veral as hulle spesiaal is, wat bewys word uit ons herinneringe.

  6. leonvonmoltke November 22, 2010 at 4:42 nm #

    Oumas en Oupas is wonderlike goed! Dis ‘n voorreg om hulle te kan beleef.

  7. Charms November 22, 2010 at 7:25 nm #

    Ek het by Ouma en Oupa grootgeword en dit was wonderlik. Ouma was ook by elke funksie by die skool. Rooikop het darem nog een Ouma en ‘n Oumagrootjie – blessed.

Lewer kommentaar op rosalindreloaded Kanselleer antwoord