Woordspel…Operasie Tien

9 Dec

Die lem glinster in die vroeë oggendson. Gisteraand se doupêrels kleef nog aan die helderpienk blomme. Dis ’n bougainvillea. Ek onthou hoe hulle elke somer in die vet buurvrou se tuin gepronk het. Geel, wit en ligpienk Sy was nogal oorgewig vir iemand wat so aktief in haar tuin gewerskaf het. ‘n Bosloerie sit en raas in die Denneboom bokant my kop. Sy tergende skreeu ruk my terug na die hede, na Operasie Tien.

Ek loer na my horlosie. Bliksem, ek is ’n hele uur te vroeg. Ek loer na die take-away, Sasol-garage-koffie langs my op die parkbankie. Daar is darem bitter min so lipafleklekker soos die aroma van ‘n goeie brousel koffie nie. In so 2 minute sal dit perfek wees om te drink. ’n Operasie ritueel. Vandag die tiende keer. Ek laat gly die flymskerp lem oor my handpalm. Perfek. Operasie Tien sal net soos Operasie Nege, en die ander agt voor dit; sonder voorval, wel amper, uitgevoer word. Noukeurige beplanning word met sukses beloon.

Dis eintlik verbasend hoe vrylik inligting beskikbaar is met ’n paar vingerslae op ’n sleutelbord. Die mens is baie gerus. Die mens is ook baie vrygewig met hul persoonlike inligting op sosiale netwerke soos Facebook en Mxit. Dit het dikwels nie langer as ’n week geneem om seker te maak ek het die regte man in my visier nie. Vir die fyn geoefende oog, gee jy dikwels meer weg in een Facebook status, as wat jy dit van die top van Tafelberg af sou geskeeu het vir die Kaapse Dokter om te versprei.

Met die 99% geverifieerde vermoede dat jy die regte man het, vat dit niks meer as ’n paar geel handskoene vir jou hande, en ’n wasgoedpennetjie vir jou neus, om jou ”100% BEVESTIG” stempel te verkry tussen sy weggooi vullis nie. Die mens is gerus, en dink nie twee maal daaroor om ’n bankstaat of ’n doktersrekening net so in die vullis te gooi nie. Selfs gemorspos kan jou naam en adres bevestig. Ek kan wel getuig dat dit somtyds nie SO maklik is nie – dit is nou na ’n stukkende broek en hondsdolheid inspuiting later toe Operasie Twee se Rottweiler my verras het. Mens leer gelukkig uit ondervinding, en daardie gedeelte van die Operasie was nooit weer uitgevoer sonder dat ek gewapen was met ’n stukkie steak vanaf Spar nie.

Ek steek ’n sigaret op. Ek vat ’n sluk van my koffie. Ek glimlag oor die herinnering van Meneer Ses se girlfriend wat langs die swembad in haar birthdaysuit gelê en tan het. Gmf, nogal die kinders se aupair vir die vakansie gewees. Goeie bliksem daai girl is gebou. Gelukkig het ek oor die muur geloer voordat ek oorgespring het… en reg langs haar sou beland het. Dit sou nou ’n katastrofiese konsternasie afgegee het. Ek het maar die volgende dag teruggegaan. Ek moet bietjie kyk of ek nog daardie gesteelde kiekie op my foon het. Moderne tegnologie is nie altyd sleg nie!

Ek kry ’n beklemming om my hart. Die sweet slaan in my handpalms uit. Net die gedagte aan Operasie Sewe wil my summier laat weghardloop. Want wie sou nou ooit kon raai dat Meneer Sewe ‘n hartaanval sou kry en net daar op die plek morsdood sal neerslaan. Sommer net so, sonder dat ek eers ‘n pinkie gelig het. Wat ‘n totale ramp op daardie oomblik. Die nagevolge kon enorm gewees het as die straatveër aan die anderkant van die laning op daardie oomblik opgekyk het. Ten spyte daarvan, was die Operasie nogsteeds ‘n triomf, en mens kan nie help om ‘n bietjie selfvoldaan te wees, en te glo dat hierdie kruistogte goedkeuring van ‘n ander, ontasbare mag wegdra nie. Sit vis vobiscum – May the force be with us.

Die lang arm op my Casio wys dit is kwart voor. Snaaks hoe maklik dit is om die Menere te agtervolg. Mense sonder ’n gewete is nie baie agterdogtig nie. Die laaste gedeelte van elke Operasie se beplanningsfase is om ’n oomblik te vind waar Meneer alleen gaan wees. Die mens is tog so ’n slaaf van roetine. Meneer Een het weekliks alleen ontvlugting langs die viswaters gaan soek. Meneer Drie en Meneer Agt het weer ’n weeklikse vroegoggend sauna-sessie by die gym gehad. Meneer Vier het weer tydens middagete by ’n hotel oorkant sy kantoorgebou ingeboek.

Meneer Tien stap twee keer per week om ses uur in die oggend verby hierdie verlate deel van die park, met ‘n glimlag op sy gesig en ‘n broek vol afwagting. Ek hoor die voetstappe aankom. Nogal snaaks hoe mens ’n unieke stap het. Dit is amper soos ’n vingerafdruk. Dit is Meneer Tien. Effens verskuil after die Denneboom sal hy my nie sien voordat hy om die kronkel van die paadjie kom nie.

Binne enkele sekondes was ek agter hom, met die mes teen sy keel gedruk en sy arms in ’n staalgreep agter sy rug.

”Sjuut Meneer Tien. Kyk net rustig voor jou, en luister. Ek het bewyse dat jy jou vrou met ’n nuwer model verneuk. In jou geval is dit ironies genoeg, letterlik ’n model. Al die geld in die wêreld, en jy het baie, sal my nie keer om jou vrou en die koerante te kontak, en jou, Meneer Tien, die gerespekteerde CEO van ’n multi-nasionale maatskappy, se bubble te bars nie. Jy verdien nie jou vrou se liefde en toewyding nie. Jy vedien nie jou kinders se eer en respek nie. ’n Mens mors nie met ’n ander se lewe nie.”

”Ek weet dat die poppie vir jou wag daar agter die eikeboom, links van die wit rose waar hierdie paadjie ’n kronkel maak. Maar sy moet maar wag, want jy gaan nie weer terug soontoe nie. Jy gaan nooit weer met haar kontak maak nie. Jy gaan soos wat dit ‘n toegewyde man, en pa betaam, van hierdie oomblik af die respek aan jou gesin gee wat hulle toekom. Dit sluit jou VOLLE toewyding in. Onthou, ek watch vir jou!”

Ek steek ‘n sigaret op en kyk hoe Mnr Tien weer in die rigting verdwyn waarvandaan hy gekom het. Ek kyk na die blink lem van die mes, en wonder weereens of ek as “when push comes to shove” werklik die mes sal kan gebruik? Wel, die tyd sal leer. Miskien met Operasie Elf? Tot nou toe was die mes gelukkig nog net die verlenging aan die verlenging van die lang arm van die gereg. My arm, ek like dit nogal.

4 Responses to “Woordspel…Operasie Tien”

  1. Son Desember 9, 2010 at 1:05 nm #

    Fooooookkkit! Kan die ou nie ‘n draai by ‘n paar mense wat ek van weet, gaan maak nie?👿

    Uitstekend geskryf – soos altyd🙂

  2. Xena Phoenix Desember 9, 2010 at 1:16 nm #

    Hmmmm

    As hy klaar is met die verneukers, kan hy asseblief die molesteerders gaan regsien?

  3. Plein Desember 9, 2010 at 1:32 nm #

    Hy gaan laaaaank besig wees. Great geskryf!

  4. Choppy Desember 9, 2010 at 2:14 nm #

    Baie goed!
    Ek wil die ou ook so rukkie leen, lol, hy gaan genuine baie, baie besig wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: