Woordspel…Dans Die Aarde

16 May

Toe die aarde begin dans:

“So dis hoe ‘n aardbewing voel” fladder dit vlugtig deur Martie se brein. Sy hou die deurkosyne en die vensterrame dop wat in ’n ritmiese tango in die arms van die spierwit mure beweeg. Die dans afgerond met die dromslag finalé waar die vensterglas in duisende stukkies op haar neer-confetti. Martie se lyf word van die grond af gepluk en die lug ingeslinger. Druppeljies bloedrooibloed begin spruit uit die honderde glassnytjies, en kleur haar wit somersrok met verfspatsel kinderpatrone. Die paar sekondes voel soos minute terwyl sy in stadige aksie deur die lug sweef . Teen die tyd wat haar liggaam met die valslag regop deur die hoedestaander geryg word, sak die plaffon, gevolg deur die dak, met ’n stowwerige geplof op die skuddende aarde neer. Martie staan soos ’n voëlverskrikte Statue of Liberty deur die hoed-en-baadjie-staander gepen. Fier. Regop. Bebloed. Morsdood tussen stofwolke.

Pieter hyg en snak na asem as die eindstreep voor hom wink, waar hy binnekort in ’n sweetende klimaks sal kan terugval in die midde van die luide gille van die langbeen brunet met die bloedrooi lippe. Die effense trilling van die vloer het hom byna na romantikus laat bekeer as sy gedagtes vlietend ”I feel the earth move under my feet” laat flits, millisekondes voor ’n ontsaglike ontploffing die hemelbed moederaarde laat verlaat en Pieter se kop netjies met ’n hupstoot deur die blou plaffon plant. Die gille van die brunet met die geskeurde visnetkouse galm bo die geraas van bourommel wat oral in die straat val. Nie net oor die besef dat sy soos ’n wafferse akrobaat nog steeds die, nou lewelose, liggaam van Pieter met haar bene vasgreep om sy middel nie, maar ook oor die besef dat die venster, muur en al, aan die hoofstraat se kant nou weg is. Die eerste toeskouers drom alreeds buite saam en is openlik besig om vingers te wys na waar sy nog steeds gekoeksuster onderstebo aan die lewelose-kop-deur-die-plaffon-naakte-lyf van die dak afhang. Sy weet nie of dit dalk die skok van die ontploffing is nie, maar as sy net regs verby die rietskraal tannie kyk wat die oom se oë, op ’n belaglike wyse met haar hande probeer toehou, sien sy die mees bizarre ding…. ’n vrou met ’n rooi-en-wit, of  is dit dalk ‘n wit-en-rooi somersrokkie aan, wat lyk of sy soos ‘n stukkie hoenderbors deur ‘n sosasiestokkie geryg is.

Marna, met die skarlakenrooi tentrok, sit juis toe nes ’n bakvissie en giggel nadat Jan uiteindelik so ver gekom het om die platinum ring met die groot diamant, aan haar pofvinger met die pienk naellak te glip. Hy het nog met haar hand in syne gesit, hulle blikke nog liefdevol gesluit, toe die ontploffing hom uit sy stoel uitpluk, en hy so tien meter verder met ’n doef-slag kennis maak met die koeëlvaste venster van ’n geldwa wat by die rooi lig gestaan en luier het. ’n Oomblik later staar hy met ‘n vraagtekenfrons in die rigting van die restaurant na waar die sypaadjie-tafeltjies sekondes terug nog in netjiese rye was. Daar is ‘n moerse gat in die grond. So twintig meter verby die gat, na wat lyk of dit in ‘n aangrensende woonstel was, is die komiese beeld van ‘n vrou , sonder ‘n draad klere aan (behalwe vir geskeurde swart visnetkouse), wat onderstebo soos ‘n Boswell-Wilkie-Akrobaat aan ‘n man se  lewelose liggaam hang.. “Absurd” dink Jan hardop, voordat hy afkyk en sien hy hou nog Marna se hand vas. Die hand met die nuwe ring aan, wat nie meer vas is aan ’n arm nie. “Absurd” dink hy weereens hardop terwyl hy Marna se hand gebruik om vir die onderstebo-kaal-meisie te wuif. Hy bars uit van die lag.

Oom Koos het net vir Tant Anna uit die kar uitgehelp in die afleweringszone langs die restaurant toe ’n allemintige ontploffing sy poeierblou 1960 Volkswagen Kewer soos ’n vuurpyl die blou lug instuur. Tant Anna het eensklaps in ’n gat hier neffens sy regtervoet in verdwyn. Oom Koos, nog so bietjie uit die veld geslaan, voel-voel so na sy kaki-hemp se borssak om sy bril in die hande te kry, want as hierdie die wederkoms is waarvan Dominee Marais Sondag gepreek het, wil hy alles goed bekyk, en seker maak hy beland in die regte ry voordat enige finale trompette blaas. Met die opsit van sy bril moes Oom Koos eers ’n keer of wat sy oë knip, net om doodseker te maak sy gekatterakte-oë bedrieg hom nie. Daar, met sy agterent ingeplant in ’n geldwa se voorruit, sit ’n laggende man met ’n bebloede poffer-hand in sy hande en waai. Soos wat mens brommers met ’n vlieëplak sou wegwaai. Oom Koos knip toe maar weer sy oë en draai ook sy kop so effens skuins en fokus sy oë deur sulke klein skrefies. Die man se skaterlag maak plek vir ’n angsbevange gil en verskrikte opkyk na bo. Oom Koos loer so bo-oor sy brilraam na waar die man kyk, en is net betyds om te sien hoe ’n poeierblou 1960 Volksie uit die hemele neer bo-op die man neerbliksem. ”Aardig”, dink Oom Koos. ”Ek wonder wat van Anna met my kierie geword het?”

”Onmoontlik” ”Absoluut on-fokken-moontlik”, dink ek by myself terwyl ek na die skarlakenrooi tentrok kyk wat in die boom se takke wapper. ”Dit kan tog nie wees nie?” probeer ek al die gebeure om my verwerk. Die sirenes van die polisie, ambulanse en brandweer kan alreeds bo die stadsgeraas in die verte in aantog gehoor word. Die eerste televisie nuusspanne is alreeds op die toneel, met die kameramanne en nuusankers wat oor, en bo-op, beseerdes klouter om tog net die eerste foto’s en video-opnames die lugweë in te kan stuur.

Ek kyk weer om my rond, skud my kop. Een keer. Twee keer. Drie keer. Dit moet ‘n nagmerrie wees. In werklikheid kan iemand mos nie so deur ‘n hoedestaander geryg word nie,……… of, of so onderstebo in haar Evasgewaad aan ‘n Adam vasklou nie? “Wel, miskien is sy ‘n ruiter” spreek ek my gedagtes hardop uit. “Perverse vark” word ek toegesnou, gepaardgaande met ‘n brandende taaiklap, deur ’n vrou langs my. Na my siening is sy jaloers, omdat ek nie ’n opmerking oor haar gemaak het nie. Jaloesie is ‘n lelike ding. Hoe kan ek haar raaksien as sy dan nog al haar klere aanhet? Ek wonder of ek nie dalk deur ‘n baksteen teen die kop getref is nie.

Ek laat my hande ondersoek instel van die kroontjie van my kop tot die punt van my groottoon. Deeglik. Voel vir nattigheid wat bloed sal beteken, of dalk ‘n knop teen die kop wat my onsamehangede denke sal verduidelik. Of miskien ‘n ysterpaal of…..

“Wat de fok is dit die?” wonder ek toe ek oor my middellyf voel. Ek kyk af en tot my verbasing is daar ‘n kierie wat my maag deurboor, voor in en skuins agter by my rug net bokant my boud uit. “Anna, waar is my kierie?” vra ‘n ou oom so links van my aan niemand, voordat hy omdraai, sy balans soos ‘n dronk ballerina verloor, en met swaaiende arms by ‘n gat inval. ‘n Groot gat.

”Dit is onmoontlik. Dit kan tog nie wees nie.” ”En waar is daardie rooilip tert?” “En hoekom “Kaptein” ou Kurt dan nog steeds oor die luidsprekers?”

Vyf minute voor die aarde begin dans:

Dit is ’n warm somersmiddag. Die son brand warm op die stad neer, en mense skarrel van koelteboom na koelteboom langs die pad. Ons loop hand-aan-hand in die rigting van die restaurantjie met die vrolike musiek. Kurt se ”Kaptein” kom jolig deur die luidsprekers, en meer as een persoon sit om hul tafeltjies, met hulle voete ritmies en tik.  My gedagtes woer-woer tussen ’n oproep van vroeër , en die onderwerp van die oproep saam met wie ek nou niksvemoedend die straat afwandel in die rigting van ’n oop tafeltjie, onder ’n geel Lipton Icetea sonsambreel. Ons gaan sit teenoor mekaar, ek kruis my een been oor die ander een, steek ’n sigaret op en kyk haar vierkantig in haar bruinswart oë.

”So, Jacqui, hoe voel dit om ’n slet te wees?” ”Die Bloem Bicycle – Almal kry blykbaar ’n beurt om te ry.” Die bitter stoot gal in my keel op. Ek staan op, gooi my sigaret op die sypaadjie neer en stap weg, voor ek nog in haar skoot ook kots. ”Dit sou ’n gepaste farewell gewees het” plaas die duiweltjies die idee in my gedagtes. Met die wegstap merk ek nie op hoe die brandende sigaret die droë blaartjies en takkies in die hoekie aan die brand steek nie, en die vonkies by die klein grondvlak keldervensterjtie inwaai nie.

Tien minute voor die aarde begin dans:

Sy oë is dik gehuil. Sy neus loop, en beide sy arms is al met snot besmeer, en hy kan net-net deur die trane sien hoe sy hande sukkel om die laaste een van die gasbottels oop te draai. Hy kan nie die lewe sonder Jacqui voorstel nie. Die reuk van gas begin al sterk in die lug hang, en hy gaan sit in die middel van die vloer. Bene gekruis. Sonder klere aan en snik, want dit is hoe hulle dit in die flieks doen. Hy maak sy oë toe. Hy neem diep asemteue terwyl hy dink aan hulle gesprek tien minute terug. ”Ek kan nie net aan een man getrou wees nie André. Ek is verslaaf aan seks. Geen enkele man sal kan bybly nie.”

Na ‘n paar minute voel dit of André begin sweef. Sy liggaam word ligter en die hartseer gedagtes is besig om soos mis voor oggendson te verdamp. Skielik spring André op en storm na die ry venstertjies teen die dak toe. Terwyl hy die naaste een oopwikkel gil hy dit hard uit: ”Geen vrou is my lewe werd nie!” Hy kry die venstertjie oop en staan op sy tone om sy neus so na as moontlik aan die oop gleuf te kry, en neem diep teue van die vars lug. Sy brein registreer onmiddelik ‘n brand-reuk, en stomgeslaan staan en kyk hy na die vonkies wat verby sy gesig die gasgevulde kelderkamer inwaai.

Toe begin die aarde dans.

8 Responses to “Woordspel…Dans Die Aarde”

  1. leonvonmoltke Mei 17, 2011 at 9:01 vm #

    Wow! Baie goed!

  2. bileamdonkie Mei 17, 2011 at 10:56 vm #

    Hemel, jy het interessante gedagtes! Baie goed geskryf!

  3. BB Mei 17, 2011 at 12:16 nm #

    Friggin’gits!!!😯 Jy het ‘n asembenewende, awesome verbeelding!! Grrrrrrreat stuff!!

    • demoerin Mei 17, 2011 at 1:49 nm #

      Ek sê moes hoeka passop vir die dag as hierdie koppie uithaak😆

  4. Celia Neveling Mei 17, 2011 at 1:40 nm #

    Uitstekend!

  5. demoerin Mei 17, 2011 at 1:47 nm #

    😆 Dankie, dis eintlik ‘n ou stukkie, maar Johannes Coetzee en Family Radio se Armageddon die naweek het my weer aan hom laat dink.

  6. corporation offshore Mei 18, 2011 at 10:26 nm #

    ..Ons knaag aan n laat ontbyt in n besige Wimpy iewers buite Brits wanneer vriendin Linda se sms deurkom dat hulle nou uit Johannesburg ry om te gaan toustaan vir lekker staanplek op Loftus vir die Robbie Williams-man. ..Dis mos net Zolani Mahola wat mens eerste deur die radiogolwe leer ken.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: