FDI

27 Jul

FDI is nie die nuwe bababoetie van die FBI nie. FBI staan vir Foreign Direct Investment – dit is kortliks ‘n indeks van die VN om te bepaal wat die netto bedrag was tussen jou land se oorseese beleggings (geld wat uitgevloei het), en dan die beleggings wat jou land binnegekom het. Dit verg nie ‘n doktoraat in ekonomie om te besef dat jy graag sal wil hê dat dit vêr in die positief  moet wees nie – dit is soort van ‘n barometer van die buitewêreld se vertroue om hulle geld in Suid-Afrika te belê. Nou ek weet nie of ons regering enigsins bekommerd is nie , maar dit het met 70% gedaal vir Suid-Afrika – die land wat bemark word as die “Gateway to Africa”. Suid-Afrika het van 4de tot 10de plek gesak in Afrika. Dit maak MY wel bekommerd.

Kom ons kyk of ek in 5 minute kan neergriffel hoekom so iets sal gebeur –

  1. Jy wil investeer en het ‘n maatskappy nodig. CIPC (ou CIPRO) is jou eerste stop want jy moet een registreer, of as jy ‘n rakmaatskappy gekoop het moet jy die naam verander. Jy moet ook die direkteure registreer en jou registrasie dokumente kry. (Nou hier stamp jy al klaar jou kop – daar is so ‘n agterstand in hulle werk, dat dit ons laas jaar 6 maande geneem het om direkteure te verander. Ons het in Januarie aansoek gedoen om ‘n maatskappy te deregistreer – dit is nog steeds nie gedoen nie).
  2. Goed – kom ons sê jy is nou soortvan geholpe – Jy het ten minste bewys dat jy jou dokumente by die CIPC ingehandig het. Miskien wil jy nou kantore soek en ‘n bankrekening oopmaak. Daar is baie kantore beskikbaar, so hier behoort jy soortvan vinnig reg te kom, nadat jy moes swoeg om al die FICA vereistes na te kom.
  3. Nou kan jy dalk ook daaraan dink om te begin soek na personeel, en solank gebedjies opsê dat daar nie ‘n unie vir jou tipe werkertjies is nie. No such luck. As jy enigsins wil besigheid doen met die staat, of ander groot plaaslike groepe gaan jy ook na jou BEE samestelling moet kyk. Nog ‘n hoofpyn, want die poel waaruit jy personeel kan kies word al hoe kleiner.
  4. Op hierdie stadium check jy dalk gou jou begroting – want jy kom agter jy het nou personeel vir jou fabriek, maar jou 6% per jaar verhoging (gebasseer op gemiddelde inflasie) in salarisse gaan nie werk nie. Jy kom ook agter dat jou 6% vir elektrisiteit BAIE vêr te kort skiet.
  5. Jy loer na die koerant wat vanoggend by jou hotelkamer saam met jou ontbyt afgelewer is, en sien die berig oor die petrolstakings. Nog ‘n hoofpyn vir jou want jou produk verg aflewering – daar gaan jou 6% op jou ververkoste ook deur die dak.
  6. Net onder daardie berig sien jy hoe die regering probeer om die Wallmart/Massmart transaksie om te keer. Dit nadat dit goedgekeur was deur die kompetisie kommissie, en die fondse klaar gevloei het.
  7. Intussen kry jy ‘n e-pos van die maatskappy wat die masjinerie in jou fabriek sou voorsien. Die metaalwerkers het ook getoi-toi en Eskom het die elektrisiteit opgestoot met 30%, so aangeheg is die nuwe kwotasie, met die koste wat ongeveer 20% opgestoot is. Terug na jou begroting. Maak nog ‘n paar veranderinge.
  8. Jy loer weer na ander kostes soos telekommunikasie, en skud maar net jou kop oor die vergelyking hiervan met die res van die wêreld.
  9. Op die televisie is daar kameratonele van ‘n staking. Die groep van duisende dansende werkers beweeg in ‘n straat af, besig om maatskappye se heinings af te breek en karre aan die brand te steek. Dit is in die area waar jy na ‘n fabriek gekyk het. Nou moet jy maar teruggaan en die kontrak teken vir die duurder gebou  in die sekuriteitskompleks. Terug na jou begroting. Hoër huur en meer vervoerkoste (die kompleks is verder weg). Jy beter ook maar jou verpakkingkoste opskuif – daardie maatskappye se werkers behoort almal aan vakverbonde.
  10. ‘n Nuwe e-pos kom in. ‘n Konsultant se navorsing oor professionele dienste. Kostes vir prokureurs, dokters, tandartse, Bemarkingsmaatskappye ens. Na ‘n slukkie soet tee om jou mini-beroerte teen te werk – gaan jy weer terug na jou begroting toe….
  11. En dit is moontlik op hierdie punt waar jy ‘n e-pos uitstuur en alles kanselleer…. die lugredery bel en jou kaartjie uit Suid-Afrika vervroeg.
  12. Die taxi sal jou kom oplaai oor 3 ure – sodra hulle petrol opgespoor het.

‘n Ontwikkelende land soos Suid-Afrika kan nie bekostig om oorseese beleggings te verloor nie, of om potensiële beleggers af te skrik nie. Ek hoor gisteraand hoe De Beers hulle Suid-Afrikaanse diamant produksie moes inkort, tot slegs 25% van hulle globale produksie, om die Suid-Afrikaanse produksie koste effektief te hou (terwyl hulle Botswana produksie met tot meer as 50% van die totaal gegroei is).

As beleggers eerder in Angola (duurste land in die wêreld vir Expats) of in Nigerië (een van die mees korrupste lande op die aardbol) wil investeer, is daar groot fout.

Iewers gaan iemand moet wakker skrik in die regering, want die eerste letters van die skrif is al teen muur geskribbel.

9 Responses to “FDI”

  1. Xena Phoenix Julie 27, 2011 at 8:26 vm #

    Jy het vergeet om te noem hoe ‘n hoofnar nog boonop dreig om jou sware belegging te nasionaliseer sonder vergoeding.

  2. Kopbeen Julie 27, 2011 at 8:50 vm #

    Dit bekommer die boggers niks. Hulle sal net later bakhand staan en wag dat die UN meel kom aflewer.

  3. leonvonmoltke Julie 27, 2011 at 9:22 vm #

    Ek het ‘n artikel vir Dealmakers geskryf oor die impak van onsekerheid. Die Wêreldbank noem dit ‘n onsekerheidsbelasting. Glad nie goed vir FDI nie!

    • demoerin Julie 27, 2011 at 9:29 vm #

      Dit maak my net hartseer dat beleggingsvertroue so verswak terwyl Suid-Afrika werklik die infrastruktuur het om die Gateway to Africa te wees. En as jy nou daai onsekerheidsbelasting by al ons ander belastings gaan tel sit ons almal met boggerol.

  4. Son Julie 27, 2011 at 12:09 nm #

    Die prentjie raak al hoe donkerder en donkerder. In fact – IS daar nog ooit ‘n prentjie? 👿

    • demoerin Julie 28, 2011 at 9:28 vm #

      Ek probeer inkleur vir al wat ek werd is, maar iemand bly dit uitvee.

  5. Charms Julie 27, 2011 at 1:26 nm #

    Dit voel wragtig of jy hierdie inskrywing gemaak het n.a.v. ons besigheid. Ons het deur al daai punte geskrum en baklei en uiteindelik besluit dis NIE die moeite werd nie en die fabriek geskuif na ‘n buurland. Tragies maar realiteit.

    • demoerin Julie 28, 2011 at 9:27 vm #

      Sien – ‘n lewende en pratende voorbeeld.

Lewer kommentaar op Xena Phoenix Kanselleer antwoord