i-Generasie

15 Aug

Die jeug van vandag is ongelooflik gelukkig. Vriende, speletjies en navorsing is letterlik net die klik van ‘n muisknoppie, of ‘n search op jou selfoon weg. Ek moes tot Maandag wag om gebeure van die naweek met maatjies te deel. Ek moes vir ure in biblioteke sit en blaai deur boeke om take te doen. Nou kan ‘n enkele google search miljoene bladsye lys, of jy kan binne ‘n oogwink jou vriende met BBM, Twitter, Mxit en Facebook vertel van jou eerste soen Saterdagaand.

Dit is alles goed en wel – vooruitgang. MAAR, liewe ouer, weet jy regtig waarmee jou kinders hulself op die sosiale netwerke besighou? Dit is een ding om jou kind te vertrou, maar mens kan ook nou nie ‘n kind se nuuskierigheid inboks nie. Weet jou kind van die gevare van die gebruik van sosiale media? Weet hulle dat hulle absoluut niemand kan vertrou wat hulle (en ek wil bylas hul ouers) nie persoonlik ken nie. Besef hulle dat elke bietjie persoonlike inligting wat hul deel, gebruik kan word as lokaas deur ‘n siek mens?

Daar word weereens in die nuus berig oor ‘n man wat kinders op Mxit bevriend het, en dat dit uitgeloop het op die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie. Dit kan met JOU kind ook gebeur. Daar is ‘n baie fyn lyn tussen jou kind vertrou en haar aan haar eie lot oorlaat. Privaatheid is een ding – nie omgee nie iets heeltemal anders.

Feit is dat daar mense is wat hierdie sosiale netwerke gebruik met die uitsluitlike doel om jou kinders op een of ander manier te na te kom. Hulle is slinks en uitgeslape en het dikwels net klein brokkies persoonlike inligting nodig om ‘n volgende slagoffer te kies. ‘n Skynbare onskuldige opmerking soos “Ek moet begin diet as ek wil hê daardie outjie moet my raaksien”, “Wat moet ek nog doen vir die eerstespanafrigter om my spel raak te sien?” of “Hulle verstaan nie dat alle kinders van my ouderdom klubs toe gaan nie” is ‘n venster tot jou kind se psige. Al wat nog nodig is, is moontlik ‘n bietjie simpatie van ‘n Cyberjakkals.

Voorsorg is beter as nasorg. ‘n Kind wat nou kwaad is vir jou, is beter as een waarvan daar kaal foto’s op die internet rondgestuur word. ‘n Kind wat nou briesend ‘n kamerdeur toeslaan, is beter as een wat in ‘n web van dwelmgebruik vasgevang word.

Liewe ouer, dit is jou plig om jou kind te waarsku. Dit is jou plig om jou kind te beskerm. Maak seker dat jou verhouding met jou kind van so ‘n aard is, dat hulle van kleins af oop gesprekke met jou kan hê oor dinge wat hul pla, of dinge waaroor hulle wonder. Cyberjakkalse is ‘n realitiet, en die feit dat hulle slagoffers kan wees is ‘n realiteit. Dit is nie net iets wat met ander gebeur nie.

Ons ouers het ons altyd gewaarsku dat jy nooit met ‘n vreemdeling praat, of saam met ‘n vreemdeling in ‘n kar inklim nie. Dit geld nog steeds, want die hele internet is gevul met vreemdelinge sonder goeie intensies, die enigste verskil is dat daardie vreemdelinge toegang tot hope persoonlike inligting het nog voor hulle jou voor oë gehad het.

Gaan loer ‘n bietjie op Web Wise Kids. Lees hierdie dinge saam met jou kind. Wys hulle die berigte in koerante oor misdade met hul oorsprong op sosiale netwerke. Gesels met hulle oor hierdie Cyberjakkalse en hulle modus operandi. Maak seker jou kind voel dat hulle vrywillig na jou toe kan kom met enigiets. Ons was almal een of ander tyd 10, en ons was almal een of ander tyd 16. Wees geduldig en antwoord hulle vrae. Eerlik en reguit. Wys belangstelling in wat in hulle lewens aangaan. As jy “Nee” sê vir iets, staaf dit met ‘n goeie rede. Wees die oor waarna jou kind soek, voor hulle simpatie in die oor van die Cyberjakkals vind.

9 Responses to “i-Generasie”

  1. Xena Phoenix Augustus 15, 2011 at 8:57 vm #

    Amen

  2. leonvonmoltke Augustus 15, 2011 at 9:56 vm #

    Met jongelinge in die huis kan ek maar net sê dat dit ongelooflik moeilik is om jou kinders oor alles te waarsku en te keer dat hulle nie daarby betrokke raak nie. Daar is altyd iewers ‘n maatjie of ‘n kennis wat besig is met onderduimse dinge. Jy kan dit dalk by die huis keer, maar jy weet nie wat gaan by die skool aan nie.

    • demoerin Augustus 15, 2011 at 10:26 vm #

      Yip, keer gaan onmoontlik wees. Ek glo ‘n vertrouensverhouding met kinders, waar hulle enigiets met jou kan bespreek, en redes hoekom hulle social-media-savvy moet hê is die antwoord. Hulle moet besef dat nie almal op sosiale media jou vriende is nie, en dat nie almal goeie intensies het nie.

  3. Nadia Augustus 15, 2011 at 10:19 vm #

    Defintief een van die dinge wat my nou al benoude boude besorg vir wanneer daar eendag ‘n tiener in die huis gaan wees – as ek nou al benoud is sonder dat daar al kinders in die huis is hoe gaan dit wees as die eerste selfoon/rekenaar/uitslaap by maats gebeur …..

    • demoerin Augustus 15, 2011 at 10:27 vm #

      Probleem is Nadia…selfone word nie net meer deur tieners gebruik nie. Maar ek dink ‘n goeie ouer-kind verhouding is die beste grondslag.

  4. Son Augustus 15, 2011 at 3:25 nm #

    Ek sê elke dag dankie dat my kinders groot is. Toe Megan in std 1 was, was sy in die koshuis. Toe bel daar eendag iemand en vra vir haar, by naam. Sy dog dis haar pa, want net ons en haar ouma het altyd gebel. Toe is dit ‘n man wat onwelvoeglike voorstelle aan haar maak. Agterna het hulle uitgefigure hy moes by die skool se heining gestaan het en so haar naam gehoor het. Maar glo my, daai klein meisietjie het omtrent sy ore afgegil en dadelik die koshuismatrone gaan vertel. Want van kleins af het ons haar mooi geleer hoe om sulke situasies te hanteer. Dis ‘n OUER se plg om sy kind paraat te maak vir die hienas in die wêreld!

    • demoerin Augustus 16, 2011 at 8:50 vm #

      Dit is waar daai Son. Ek wonder net hoeveel ouers maak nog tyd om seker te maak hul kinders is peraat, en nog meer, kan hul nader met enigiets.

  5. hemp Augustus 16, 2011 at 4:42 nm #

    1.4 die persoonlike gevoelens gemeenskapsnorme waardes en sosiale druk bespreek wat met seksualiteit gepaardgaan..

Trackbacks/Pingbacks

  1. Stories is my lewe « Herriemerrie - Augustus 16, 2011

    […] vreeslik lank of vreeslik na aan die waarheid te wees nie.  Ek tag dan vir Olga, Sonkind, Klippie, Demoerin en Toortsie om ons met hulle kreatiwiteit te vermaak.  Onthou om die vreugde van kreatiwiteit te […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: