Woordspel…Kinderstorie

17 Aug

Xena het huiswerk uitgedeel….en hier is my probeerslag vir ‘n Kinderstorie. Dis baie moeilik om nie ‘n storie met ontploffings, dood en bloed te skryf nie…..

Sannie Seekoei Mag Nie Dans Nie.

Koning Lodewyk Leeu sug. Hy tik ongeduldig met sy naels op die troon se armleunings. Hy haat Vrydae. Op Vrydae staan die inwoners van Diereland in ‘n ry wat vêr verby die Groot Boom strek. Hulle het probleme, en hulle verwag van Koning Leeu om dit uit te sorteer.

Karin Kraai kla oor die diere wat hulle blink goetertjies terugeis wat sy so met sorg optel. Optelgoed is mos vatgoed, en haar nes lyk baie fraai. Frank Volstruis het weer ’n appeltjie te skil met Babsie Bosaap wat van agter die boomblare vir hom loer. Dit maak hom senuweeagtig. Oupa Olifant brom oor Hansie Hiëna wat hom uit die slaap uithou met sy gelaggery, en Hansie Hiëna is weer kwaad vir Ansie Aasvoël wat sy kos steel.

So gaan dit aan tot die warm bosveldsonnetjie begin sak oor die vlaktes. Met ’n sug van verligting sien Koning Leeu dat Sannie Seekoei en Kallie Kabouter, uit Kabouterland, die laaste twee in die ry is. Hy wink hulle nader. Koning Leeu beduie vir Sannie om te praat.

”Koning Leeu, ek is baie ongelukkig omdat Kallie Kabouter vir Juffrou Flamink, die ballet onderwyseres, gesê het dat ek nie aan die kinderdans in die lentefees sal kan deelneem nie” stotter Sannie tussen haar trane deur.

”En hoekom mag dit wees Kallie?” vra Koning Leeu ongeergd met die lig van sy wenkbroue. Hy duld nie onmin tussen die Diere en hul bure uit Kabouterland nie.

”Koning Leeu, ons waardeer die geleendheid wat u vir die Kabouters gee om die verhoog vir die Lentefees te bou. Ek probeer nie lelik wees nie, maar ek wil u net herinner aan die jaar toe Sannie se Ma, Sandra Seekoei gedans het.”

Dit is moeilik vir Koning Leeu om nie met ’n glimlag aan daardie konsternasie te dink nie. Dit was so halpad deur die Swanemeer ballet wat Sandra ’n sprong gemaak het, en met ’n groot lawaai regdeur die verhoog geval het.

”U sien Koning Leeu, ons kan net nie ’n sterk genoeg verhoog bou waarop ’n Seekoei kan dans nie” sluit Kallie af.

Sannie Seekoei bars met ’n snik in trane uit.

”Sannie,” sê Koning Leeu in ’n sagte stem ”dit is veiliger dat jy nie aan die dans deelneem nie.” Koning Lodewyk Leeu staan langsaam op en verdwyn agter die doringboom. Dit was ’n lang dag, en dit is moeilik om almal altyd tevrede te stel.

Met ’n hartverskeurende gehuil waggel Sannie daar weg, in die rigting van die dam. Dit is nie regverdig nie! Sy wil ook aan die lentefees deelneem, en die enigste item vir kleuters is die kinderdans!

Nadia Nagtegaal vlieg uit die doringboom uit agter Sannie aan. Haar hart voel baie seer vir klein Sannie, en sy sal haar probeer troos.

Dit is nog twee weke voor die Lentefees, en miskien kan Nadia ‘n plan maak.

Deur die dag kon Sannie maar net met hartseer sit en kyk hoe die ander kleuters die dans oefen. Sy wonder dan hoekom sy nou juis ’n Seekoei moes wees wat nie aan die dansitem kan deelneem nie. Hoekom kon sy nie so klein en fyn soos Martie Muis wees nie? Maar, in die aand as die son sak begin sy weer vrolik voel. Dit is wanneer sy in die maanlig sluip tot agter die riete waar sy vir Nadia Nagtegaal ontmoet.

Die aand van die lentefees kom nader en almal in Diereland maak gereed vir die Lentefees. Al die bure uit Kabouterland en Feëtjieland is ook genooi. Die diere werk hard aan hulle items. Olga Uil gaan ‘n gediggie voorlees. Hansie Hiëna gaan seremoniemeester wees en die gehoor met grappies vermaak. Koos Krokodil gaan op sy viool speel, en Hennie Haas en die Hase gaan ’n klopdans item lewer. Dierasie, die hoërskoolorkes gaan ook ’n paar loslit nommers vir die jonger geslag speel.

Na maande se oefen het die aand uiteindelik aangebreek. Die pragtigste lenteaand. Vuurvliegies flikker in die bome, en die laaste van die gaste het net gesit toe Oupa Olifant die aand open met ’n trompettergeskal.

Die program verloop seepglad en al die deelnemers kry staande toejuigings. Toe Dierasie se laaste kitaarklanke oor die heuwels weergalm neem almal weer hul sitplekke in nadat hul bietjie litte losgedans het. Die Lentefees word elke jaar afgesluit met die Lied van die Diere, gesing deur Nadia Nagtegaal. Die Paddakoor en Orkes is gereed voor Pedro Padda, die dirigent, met sy stokkie omhoog.

Die orkes begin speel, en die paddakoor kwaak saggies. Die musiek en Paddakoor word geleidelik harder, en op die plek waar Nadia Nagtegaal gewoonlik invlieg en die solo sing – snak die gehoor skielik na hul asems…..

Van agter uit die gehoor kom die mooiste stem wat hulle al ooit gehoor het. Almal kyk om en staan op om te sien wie so mooi kan sing. Sy stap stadig vorentoe en sing die Lied van die Diere. Die maanlig glinster op haar blink rok, en die Diere, Kabouters en Feëtjies is in vervoering meegesleur. Dit is Sannie Seekoei!

”….elke dier het ’n plek, in eenheid in Dierelaannnd.” Die gehoor het geklap en encore geroep nog voor die orkes hul laaste note gespeel het.

Sannie Seekoei kon nie dans nie, maar sy was die stêr van die aand.

 

10 Responses to “Woordspel…Kinderstorie”

  1. leonvonmoltke Augustus 17, 2011 at 4:43 nm #

    Cool!! Ek hou hiervan!

  2. klippie Augustus 17, 2011 at 5:21 nm #

    Pragtig!

    Dit bewys nou maar net weer: It ain’t over until the fat lady sings.

  3. Son Augustus 18, 2011 at 7:32 vm #

    Dis ‘n PRAGTIGE storie! Jy het my ook sommer nou geinspireer. Watch my space 😉

    • demoerin Augustus 18, 2011 at 8:21 vm #

      Ons wag in spanning – gebruik asb net woorde wat ek ook kan verstaan, nie soos vriend Leon nie 😆

  4. Xena Phoenix Augustus 18, 2011 at 10:02 vm #

    Ai tog!! Ek dink amper ek het gister hier gecomment, maar dit was of my verbeelding of dit is nou weg. Ontneem jy my vryheid van spraak, DMI?

    😉 Ek wou gister nog tong in die kies waarsku dat jy versigtig moet wees met die gory details. DIt is aanvaarbaar in kinderstories dat iemand se kop afgekap mag word, maar nie hoe dit gedoen word nie. :mrgreen: Gelukkig was so ‘n waarskuwing nie nodig nie.

    Jou storie herinner my sterk aan Henrietta die Seekoei wat nadat sy te veel verwoes het, onder water moes dans. Gelukkig het Sannie ‘n bekoorlike stem gehad waarmee sy almal op hulle neuse kon laat kyk.

    • toortsie Augustus 18, 2011 at 10:41 vm #

      En ek pink ‘n traan vir die Skattige Sannie!!
      Baie geluk! En ENCORE!!!

  5. Nadia Augustus 18, 2011 at 11:31 vm #

    Briljant! Dalk kan ons vorentoe lees van Sannie Seekoei se suksesvolle sangloopbaan in diereland?

  6. Slakkelak Augustus 18, 2011 at 11:38 vm #

    Oulik verby… ‘n verhaaltjie wat my kleinkinders eendag kan lees

  7. Kopbeen Augustus 18, 2011 at 5:24 nm #

    Dit is ‘n baie goeie storie. Het dit nou sommer weer deur gelees.

Lewer kommentaar