Woordspel….Ingekleurde Doodsberigte

7 Oct

INGEKLEURDE DOODSBERIGTE

Onbewustelik word die regmerkies in my gedagtes gemaak. Onbewustelik ja; ’n getuigskrif van ‘n ou gewoonte. Ten minste 10 jaar om presies te wees. ’n Pot varsgebroude Douwe Egberts koffie (die groen pak), koffiebeker, melk, suiker, asbakkie, sigarette, Bic aansteker…en dan laaste natuurlik die koerant. Elk netjies op sy plekkie. Die koerant is oopgevou. Doodsberigte.

Ek skink die eerste beker koffie. Ek begroet die aroma met ’n diep asemteug. Ek steek die eerste siggaret aan en skuif die koerant nader.

 

Ackermann, Benjamin (Ben)

1945 tot 2011

Sag heengegaan na ’n lang siekbed. Rus in Vrede.

Hartseer gemis deur familie en vriende.

 

Bester, Magrieta Jacoba (Tannie Griet)

1919 tot 2011

Verkool in ’n frats motorongeluk

Heengaan betreur deur dogter, skoonseun, kleinseun en liefdevolle vriende.

Tannie Griet druk die sleutel in die aansitter. Haar ligblou 1965 Anglia hoes uit protes. Met die vyfde probeerslag plof ’n blougrys bol rook uit die uitlaatpyp, en die Anglia gee die stryd gewonne met ’n reëlmatige prrrrrr. Sweetdruppels pêrel op Tannie Griet se voorkop. Met ’n skerp, kras geluid dwing sy die Anglia in tru-rat.

Op 92 moet sy dalk nie meer bestuur nie, maar dit is die enigste manier hoe sy weekliks haar dogter, skoonseun en kleinseun sien. As sy nie na hulle toe ry nie, sien sy hulle nie. Haar enigste oorlewende familie. “ ‘n Skande! “ sê Tannie Griet hardop, net-net hoorbaar bo Elvis se Are You Lonesome Tonight?, wat kliphard op die kassetspeler speel.

Sy sien uit na die tee en koek by haar boesemvriendin, Sarie Wessels, die volgende oggend. Sy glimlag, min wetende dat sy dit nooit lewendig om die skerp draaie van die bergpas gaan maak nie. Sy glimlag, min wetende dat haar kleinseun deur die nag aan haar remme kom peuter het. Sy glimlag, min wetende dat hy ’n dwelmprobleem het en duisende rande aan sy verskaffer en geldvoorskieters skuld.

Sy het saam met Elvis gesing, tot net voor die oomblik wat sy die remme in angs tervergeefs begin pomp het; en die ligblou 1965 Anglia met ’n kakkofonie van skeurende metaal teen 100km/h deur die veiligheidsreëling gebars het. Sy het geglimlag. Sy het onvoorwaardelik liefgehad. Sy het ook al haar besittings aan Sarie Wessels nagelaat. Liefde kan nie gekoop word nie, dit kan wel beloon word.

De Wet, Janno

1965 tot 2011

Aangeteken as vermis in Somalië. Jy het voluit gelewe.

Gemis met tere herinneringe.

 

Kloppers, Maria Magdalena

1941 tot 2011

Heengegaan sonder familie, maar nie eensaam nie.

Liefde van die Sonstraal Ouetehuis.

 

Marais, Ryno

2009 tot 2011

Lekker dans saam met die engeltjies!

Liefde Mamma en Pappa

Klein Ryno, ’n blou-oog blondekoppie, het gister verjaar. Hy is nou twee jaar oud en is besig om saam met Lady GaGa te dans. Haar jongste musiekvideo is op MTV. Ryno se gunsteling kanaal.

”Ek gaan gou winkel toe ry” hoor hy Mamma aan Pappa sê. Daar is net een ding wat Ryno meer geniet as dans, en dit is om winkel toe te gaan, want ”winkel” is sinoniem met lekkers. Veral daardie lekkers wat soos appelkose lyk. Soos blits was Lady GaGa vergete, en het Ryno homself met sy jongste “Puss-in-boots” gesiggie voor die deur staangemaak. Mamma kon net nie nee sê nie.

By die kar gekom is dit hier waar die klein engeltjie in ‘n duiweltjie verander. Vloermoer is nie ‘n genoegsame beskrywing nie. Die geskeeu tussen die hartverskeurende snikke heen is genoeg om enige Mamma die plathand te laat toedien. Ryno wil saamry, maar hy weier om in sy karstoel vasgegordel te word. Ryno wil op die agtersitplek staan en dans.

Ma gee toe om die vrede te bewaar en uit die hittige son te kom, want die kafee is mos allermins tog net om die hoek. Op hierdie hoek is daar egter ‘n stopstraat. Mamma het nie genoegsame tyd gehad om te reageer nie. Die besope taxi-bestuurder het beheer oor sy mini-bus verloor en hulle rooi Uno kop-aan-kop getref. Mamma is deur haar sitplekgordel gered. Klein Ryno het gillende deur die voorruit gevlieg. Mamma het ’n sny bo haar oog en 2 gekneusde ribbes. Klein Ryno se lewelose liggaampie lê in die middel van die interseksie. Onthoof. Sy Springbok t-hempie is deurdrenk met bloed. Skarlaken gemerk in die Desember son. Die blondekoppie lê groot-oog eenkant op die sypaadjie, onder ’n roosboom met wit, welriekende blomme.

Otto, Christiaan Jacob

1937 tot 2011

Jou plek aan my sy is vir altyd leeg.

Met baie liefde van jou man, Hennie.

 

Strydom, Sanet

1985 tot 2011

Ons berus ons by die gedagte dat dit God se wil was. Ons verstaan dit nie.

Tere liefde van Ouma, Oupa, Ma, Pa en Kleinboet

Dit was twaalfuur op die snikhete Desemberdag wat die massas op die stad toegesak het. Miere wat skielik uit alle oorde uit gate uitkruip. Hulle is ongelukkig. Baie ongelukkig, en hierdie dag met die belofte van ’n middag donderstorm, is die verkose een waarop die lyn getrek gaan word. Plakkate basuin hul ontevredenheid uit met die verkose munisipale regering. ”Leë Beloftes” ”Beloftes Maak Skuld” ”Ek Wag Vir ’n Toilet – Al 17 jaar” ”My ”nuwe” Huis Val Uitmekaar” ”Steek Die Burgermeester In Die Pad”. Stemme sing. Melodies en Meesleurend. Mooi. Die volume groei soos meer betogers hulself by die groep aansluit. Die polisie is onkant gevang. Die betoging is onwettig, met wettige griewe.

Sanet haat dit om in te ry stad toe. Sy is maar nuut uit die platteland uit, en verstaan nog nie die eenrigtings en uitleg van die stad nie. Nog meer senutergend is die unieke padreëls, blykbaar eie aan stadsbestuurders. Dit staan nie in wette opgeskrywe nie.

Die polisie moes inderhaas magte mobiliseer. Manskappe is uit omliggende metros ingeroep. Die massa betogers het vinnig gegroei tot in hul tien-duisende. Die polisie moes selfs nuwe rekrute van die omliggende polisie opleidingsentrums mobiliseer, en bewapen. Die polisie is inderhaas sonder enige konkrete plan ontplooi.

Sanet het ’n verkeerde afdraai gemaak; teen die verkeer op in ’n eenrigtingstraat in. Paniekerig het sy toe in die eerste systraat afgedraai en weer af in die volgende dwarsstraat. Dit is hier waar sy van aangesig tot aangesig gekom het met ’n rivier singende en dansende betogers, met vuiste in die lig gebal. ’n Skrikwekkende sig vir selfs die gesoutste stadsbewoner. Sanet het seker gemaak haar vensters is toe en deure gesluit…en in verwondering aanskou hoe die rivier van mense om haar kar spoel. Sy was vasgevang en op die punt van histerie. Die melodiese sang het skielik drygend begin klink. Haar karretjie het gewieg onder die stampe soos hule om haar kar beweeg het. Sanet maak haar oë toe, en probeer haar ore toedruk.

Martha was een van die nuwe rekrute wat ’n geweer in die hand gestop is. Saam met haar kamerade op die sypaadjies het hul ‘n wakende oog gehou oor die betogers, wat oppad was na die Burgermeester se kantoor toe. Daar was ’n skielike klapgeluid (moontlik ’n klapper), wat die stad binne sekondes in chaos gedompel het. Die betogers in alle rigtings begin spat. Met die omdraai en gille deur Martha om orde te probeer herstel, het ’n skoot afgegaan. Dit was uit die pistool wat in haar hand gestop was. Die dwaalkoeël is deur Sanet se venster, reguit in haar linkeroog in. Opslag morsdood. Haar liggaam is eers ‘n uur later, dubbel gevou oor haar stuurwiel gevind, toe orde in die straat herstel is. ‘n Alleen motor met ‘n lyk in, wat hierdie dag in ‘n verkeerde oomblik, op ‘n verkeerde plek geland het.

Toerien, Martha

1988 tot 2011

Jy het jou eie lewe sonder enige verduideliking geneem. Hoop jy vind vrede.

Gemis deur jou liefdevolle Ouers.

Party mense sê ek is gek. Anders sê weer dit is ‘n bietjie depressief. Maar dis my gewoonte. Dis my ritueel. Daar is niks soos ‘n lys name van dooies, wat jou elke Saterdag terugruk uit jou droomwêreld uit nie. Die lys van daardie week se ontslapenes is die beste waarskuwing dat jou lewe korter mag wees as wat jy dalkies sou glo. Dalk korter as wat jy besef. Dood is die beste herinnering dat jy vandag moet lewe. Elke dag.

Ek stort ‘n enkele traan vir mense wat ek nooit geken het nie. Name in doodsberigte.

Ek skink my tweede beker Douwe Egberts met een lepeltjie suiker en ‘n klein bietjie melk. Ek steek my tweede siggaret aan….en dink aan wat ek vandag met my een lewe gaan maak.

2 Responses to “Woordspel….Ingekleurde Doodsberigte”

  1. Kopbeen Oktober 7, 2011 at 7:27 vm #

    Laat mens dink…veral die een oor Ryno, ouers moet sorg dat hulle kinders veilig is.

  2. Son Oktober 7, 2011 at 2:51 nm #

    Vreemd. Ek lees ook (regtigwaar) Saterdae die doodsberigte. As dit oumense is, gee ek nie regtig baie aandag nie, maar as dit ‘n jonger persoon is, dan wonder ek altyd oor die hoe en hoekom. Ek dink dis makaber, maar ek kan dit nie verhelp nie😦

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: