Archive | Desember, 2011

Kerstyd….elke dag

23 Des

Christene vier op 25 Desember die geboorte van Jesus. Die twee weke rondom Kersfees skep gewoonlik ‘n gemoed van vrede, liefde en welwillendheid….ons kan darem sê vir ten minste twee weke in die jaar, want die ander 50 weke laat gewoonlik veel na wense oor.

As jy nou mooi daaraan dink is dit nie moeilik om hierdie feestydgevoel oor te dra aan die res van die jaar nie. My Cristenskap vereis van my twee dinge : Liefde vir my God, en dan naasteliefde. In naasteliefde is daar so baie in opgesluit. Ek glo my naaste is elke liewe persoon wat ek op ‘n daaglikse basis in kontak mee kom. Sekere van hulle bekend, soos jou gesin wat jy elke dag sien – andere onbekend, soos ‘n verkoopspersoon wat ek net vandag gaan sien, en dalk nooit weer nie.

Naasteliefde vereis nie dat ek hand aan hand met die verkoopspersoon of ‘n vervreemde niggie deur die strate moet huppel nie. Dit vereis dalk net van my bietjie respek en verdraagsaamheid….met ‘n tikkie selfbeheersing in sekere gevalle.

Daar is talle maniere om die onbekende naastes elke dag “lief te hê”. ‘n Glimlag en vriendelike woordjie vir die kassier agter die toonbank wat al vir 8 ure op haar voete staan en tilslaan; Glimlag en met belangstelling uitvra na die skoonmaker op kantoor se kinders; Glimlag en drukkie van die Oom, wat alleen sonder besoekers in die hospitaalbed langs jou lê, se hand; Glimlag en surprise die ou met die brood en melk agter jou in die ry, en betaal dit vir hom – gooi sommer ‘n chocolate by van die rak af; Glimlag en sluk jou lelike woorde as jy iets leliks aan iemand wil terugsê – dit sal hulle uitboul.

Die aantal maniere om op eenvoudige maniere lief te wees vir jou naaste is eindeloos. Jy het nie ‘n oorvol bankrekening nodig nie. Jy hoef nie Moeder Teresa te wees nie. Gee gaan nie altyd om geld nie; Gee kan ook bietjie van jouself wees.

Ek wil almal uitdaag om hierdie wonderlike gevoel van liefde en welwillendheid om Kersfees oor te plaas na hulle alledaagse lewe in 2012. Om goed te doen, en daarna te streef om altyd beter te wees; veroorsaak dat jou liggaam ‘n goeie gemoed huisves. Gelukkige mense is ook gesonder mense – en feit is, dit is lekkerder om rondom gelukkiger, vriendeliker mense te wees.

My wense is dus nie net vir ‘n vreugdevolle, vredevolle en liefdevolle Kersdag nie, maar ook vir 2012. My wense is nie net vir JOU nie -maar ook vir JOU naaste.

Gaan voort en deel die vreugde van Kersdag – nie net op 25 Desember nie, maar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember….en elke dag daarna.

En dan natuurlik….my gunsteling Kerslied…..His law is love and His gospel is peace……

Geseënde Kersjaar aan elkeen.

Absolute Eer

19 Des

Ek glo dit nie net nie, ek weet dit….

Dit was ‘n absolute eer vir elke persoon wat Oupa Otto in sy lewe van amper 90 jaar geken het.

Oupa Otto 1922 tot 2011

Dit is nie maklik om afskeid te neem van ‘n persoon wat “Groter as Groot” was nie. Oupa Otto het deur die voorbeeld van sy eie lewe, die goeie vrugte van die Gees van geslag tot geslag oorgedra – liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Die wonderlikste gedagte is dat ons nie hoef te soek na mooi woorde om Oupa te beskryf nie. Elkeen van daardie goeie eienskappe kry ‘n regmerkie langsaan, sonder om twee keer daaroor te dink. Ons kan net almal hoop, en daarna streef, om so ‘n ongelooflike mens te wees (of te word).

Vir ander mag dit te goed klink om waar te wees, maar dan het hulle definitief nie die absolute eer gehad om Oupa Otto te ken nie. Ek is nou amper 37 jaar oud, en kan net hoop om die helfte van Oupa se goeie eienskappe te bemeester teen die tyd wat ek ook dalk 90 word.

Liefde – Onbeskaamd, Onvoorwaardelik….

Ek dink ons almal se liefde vir sport kom ook van Oupa af….ai daardie Leeus, ten minste het hulle hierdie jaar gewen.

Selfbeheersing en Respek vir ander – Dit is die een ding wat ek nooit sal vergeet nie. Vir so oud soos wat ek is, het ek Oupa Otto nooit hoor sleg praat van enige persoon nie. Nooit nie.

So hartseer as wat dit vir ons mag wees, weet ons dit is beter vir Oupa. Geen mens verdien om met sulke pyn saam te leef nie. Ek weet ons sal Oupa nooit vergeet nie.