Kinders van Afrika…Job Masego

8 Mar

As mens hoor ‘n straat en skool in KwaThema naby Springs is na ‘n man met die naam Job Masego vernoem, dink mens sommer dadelik aan ‘n ANC vryheidsvegter wat een of ander erkenning moes kry…. maar nie hierdie keer nie.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Jacob (Job) Masego aflewerings gedoen vir ‘n plofstoffabriek in Modderfontein. Sy kennis van plofstof sou hom nikswetend, later nog goed te pas kom.

Job het saam met ‘n vriend, Frans Makhanyua by die Native Millitary Corps aangesluit, en het by die Suid Afrikaanse 2de Divisie in Oos-Afrika aangesluit. Hy het ‘n oorlogsgevangene geword op 21 April 1942, toe Henry Balthazar Klopper aan Erwin Rommel in Tobruk oorgegee het.

Een van die gevangenes se take was om die voorraad vanaf Duitse skepe wat in die hawe aangedoen het af te laai, of om die skepe te herlaai. Job het een aand vir die Italiaanse wagte gevra vir water om mee te was, maar hulle het spottend vir hom gesê dat hulle nie kan verstaan watter verskil dit sal maak nie, want hy is dan klaar swart.

In hulle kamp het Job hieraan gesit en dink; nog steeds kwaad, terwyl hy met sy hande in die sand gehark het. Hy het iets hard tussen sy vingers gevoel. ‘n Koeël. Die gevangene-kamp was op ‘n area waar daar voorheen oorlog gevoer was, en was duidelik nie opgeruim nie, want vir ‘n koeël om van nut te wees moet jy moes ‘n geweer ook hê. Verkeerd, ‘n koeël kan ook van nut wees vir ‘n persoon wat by ‘n plofstoffabriek gewerk het.

Job het so met sy rondgrawe 40 koeëls, ‘n leë melkblik en genoeg stukke lont bymekaargemaak om ‘n gelasde 4m stuk lont te maak. Na die aflaai van kosvoorrade van ‘n Duitse skip, en toe hulle hoor dat hulle na middagete die skip gaan herlaai met kiste ammunisie en dromme petrol, het Job geweet dit is tyd om sy plan in werking te stel. Hy het vir Koos Williams van sy plan vertel, en wat van sy makkers verwag word.

Sononder dui die einde van die dag se werk aan. Job het ongesiens in die laairuimte in verdwyn, want die wagte se aandag was afgetrek deur ‘n kis ammunisie wat “per ongeluk” oorboord laat val is. Job het sy tuisgemaakte bom, die melkblik gevul met die kruit uit die koeëls, tussen die petroldromme versteek. Hy het die blik toegegooi met strooi wat in petrol geweek was. Hy het sy lont sorgvuldig gelê tot by die laairuim se valdeur….en toe die lont met sy siggaret aangesteek.

Hulle is teruggevat kamp toe. Almal het rondgesit en wag. Job het gewonder of die lont doodgegaan het….. Hulle het uitroepe gehoor. Daar was eers swart rook uit die laairuim, en die volgende oomblik een, twee…drie ontploffings. Daar het niks van daardie skip oorgebly nie. Iewers het Duitse soldate vir ammunisie en petrol gewag om hulle oorlogpoging te versterk. Hulle het dit nooit gekry nie, bloot deur die inisiatief van een man, Job Masego.

‘n Paar aande later het Job en Pvt Masiya onderdeur die draad gekruip en uit die Tobruk kamp ontsnap. Hulle het vir 23 dae deur die woestyn geloop, totdat hulle deur die Suid-Afrikaanse Gepantserde Voertuig Divisie, suid van El Alamein opgetel is.

Job is later vereer met die Militêre Medalje vir sy dapperheid. Job is oorlede op 7 Maart 1952 in Springs nadat hy deur ‘n trein getref is.

8 Responses to “Kinders van Afrika…Job Masego”

  1. NetJane Maart 8, 2012 at 8:02 vm #

    Ek hou baie van hierdie storie! Ek dink nie daar word meer genoeg ophef oor helde gemaak nie. Alles is polities en deur watter angle die partye ‘n voordeel bo die ander kan kry

  2. Xena Phoenix Maart 8, 2012 at 9:39 vm #

    Ek stem saam met Jane. Hoekom word die meer algemene helde nie ook gebruik vir straatname nie. Hoeveel Nelson Mandela strate kan daar dan ook nou in elke geval wees

  3. Son Maart 8, 2012 at 4:34 nm #

    Nou het ek lekker gelees. Dankie! Stem saam met jane en Merrie hier bo😉

  4. Louwie Maart 8, 2012 at 8:54 nm #

    Mooi so vir Job, sorry van die trein!

  5. demoerin Maart 9, 2012 at 8:18 vm #

    Ek stem, daar is baie interessanter mense uit die geskiedenis van Suid-Afrika na wie strate vernoem kan word. In plaas van werklike helde, word die politici tot demi-gode status vereer…en soos hulle seg…sorry for you Mr Man-on-the-street – hulle voel vere vir jou!

  6. Toortsie Maart 9, 2012 at 11:22 vm #

    Dankie, dit was n mooi storie.

  7. Charms Maart 10, 2012 at 5:16 nm #

    Dankie vir die DMI. Ek het jare terug in Kwa Thema gewerk en in Springs gebly. Dis darem een van die strate wat geen politieke verbintenis het nie.

  8. Toortsie Maart 23, 2012 at 4:32 nm #

    Totsiens, DMI.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: