Woordspel…Hel In Die Kerk

5 Mar

BELOFTES MAAK SKULD! HIER IS DIE VERVOLG….

Hel In Die Kerk

Die aarde sweet sommer al vroeg-vroeg. Middel somer in die Noord-Transvaal is nie vir sissies nie, ook nie vir boeties nie. Dit is Sondag-oggend, sewe-uur. Die verkeer in Kerkstraat is soos een van Tant Ralie se bazaar-koeksusters geknoop. Daar is ‘n gebeduie en getoet vir ‘n vale; en as mens na die gekruide taal luister sal jy nie jouself kan indink dat almal oppad kerk toe is nie.

Die dorp skinder nou al vir 3 dae aaneen oor Woensdag se komiese sirkus gebeure wat binne en buite die dokterskamers plaasgevind het. Mientjie van die sentrale se senuwees het gistermiddag ingegee, kort voordat haar liggaam en gees dieselfde gedoen het. “Stress”, het Sarie van die Poskantoor vir almal vertel. “Die stomme Mientje het net standerd vyf. Sy kon nie lekker kophou met die inkomende oproepe en nommers en besige lyne en inluistery en afluistery nie. Sy sal nie eers kan kerk toe more nie.” So het Ant Anna Verwey, Sarie se gesprek met Jan van die apteek, aan Anna Breipen oorgedra. Dit is nie dieselfde Anna nie.

Niemand het sedert Woensdag vir Dominee van Rijn met ‘n oog gesien nie. Sarah het blykbaar sy ontbyt, middag-ete en aandete in die studeerkamer bedien. ‘n Hellesonde en vuursteen preek van epiese proporsies word verwag. Mevrou Dominee het blykbaar nie eers haar Vrydagaand kafoefel gekry nie, het Sarah berig. Santie was in haar kamer toegesluit al van Woensdag af. Blykbaar weet net Dokter, Lizanette , Dominee en Kleinjan hoekom. Santie kon blykbaar vir ‘n hele dag nie op haar agterstewe sit nie. Dominee het blykbaar ‘n geheim uitgevind want dokters glo in sekere gevalle is daar nie ‘n dokter-pasiënt vertrouensverhouding nie, veral nie waar die dominee betrokke is nie.

Dit is juis hieroor dat die dorp in rep-en-roer is so vroeg op ‘n Sondag.

“Die kerk was laas so vol met Hendrik Verwoerd se gedenkdiens” fluister een oom aan ‘n ander onder ‘n koelteboom in Kerkstraat. Nie eers Nagmaal of die Kerssangdiens kry meer hierdie tipe aftrek nie.

Teen ag-uur moes selfs die kerkmuis buite gaan staan om vars asem te kry. Daar was nie ‘n enkele plekkie op die blinkgepoetste, geelhout kerkbanke oop nie. Tannies met swart hoede waai verwoed met kleurvolle Chinese waaiers. Die gemeente sit al klaar en braai. Letterlik. Diakens met 70’s porno-akteur-snorre en swart pakke skarrel om stoele vanuit die saal ingedra te kry.

Die orreliste blaas die orrelpype skoon met ‘n paar lae akkoorde.’n Paar van die jonger, sweetbedruipte ouderlinge het ook nou ingespring om die diakens te help stoele aandra. Die kerk lyk vanoggend soos een groot sardienblik dink Martie, as sy in haar orrel se “tru-spieëltjie” vanaf die galery die gemeente sit en bekyk. Skape wat hulleself hierheen ter slagting gelei het. Martie begin met die voorspel….Nader My God By U. Vandag het ons alle hulp van Bo nodig, dink sy by haarself.

Die stilte sweet. Die talle asems dra by tot ‘n bietjie ekstra humiditeit. Iemand het weer gisteraand die pizza take-away met ekstra knoffel gehad. Doodstil. Afwagting. Die gemeente lede wat nie meer kan uithou nie begin so saggies hier en daar onder mekaar fluister. Die dame wys te veel arm en daardie een te veel been. Die een se hoed is te uitspattig…. en hoe durf Sarel Hoender sy das afhaal? Sekere sondes is ok, soos skinder, ja selfs in die kerk. Moet net nie iemand voor die preekstoel doodslaan nie.

Rina en Delwina Smit, die twee oujongnooi-susters neem hulle plekke voor in die kerk in. Hulle lei die voorsang elke Sondag. Die gemeente ly elke Sondag. Rina is steeds ‘n heel skaflike alt. Delwina was eentyd, baie lank gelede, ‘n heel skaflike sopraan. Ongelukkig het die jare wat by Delwina se ouderdom gevoeg is, ook ‘n groot aantal skrilheid en vibrato by haar stem gevoeg. En dit tesame met Delwina se hardhorendheid, is ‘n resep vir trauma onder die lyende gemeentelede. Mens kan sien hoe arms lig om gehoor-toestelletjies af te stel onder die oueres van dae, sodra die Smit susters begin vorentoe beweeg.

Vanoggend is geen uitsondering nie. Die gemeente probeer harder sing, al smekende by voorbaat vir genade en vergifnis voor hulle deur Dominee van Rijn verdoem word. Martie is besig om alle stoppe oop te draai en die orrelpype soveel moontlik lug te gee. Die blou en geel vensters protesteer al met ‘n gebewe. Maar Delwina sing; uit volle bors, en op een of ander manier bo die orrel, gemeente en huilende babas uit. Met elke gesang word die note ook ietwat hoër, en Dewina skep meer lug, en haar longe en borsmaat swel, en haar roksnate begin appelleer. Maar daar is geen einde aan Delwina nie. Sy sing haarself in ‘n vreugdevolle beswyming in, onbewus van hoe haar borsmaat uitrys soos ‘n baksel goedgekniede boerbeskuit.

Die nagevolg was onafwendbaar. Dit was met die lied wat gesing is toe Dominee met die natgesweetde ouderlinge en diakens in tou die kerk binnestap, waar Delwina besluit het om ‘n hoër diskant by te voeg om Dominee te beïndruk, wat die nate van onder Delwina se arms tot op haar middel, aan beide kante besluit tot hier toe en nie verder nie. Tesame met die skeur kon die roksknope, van die kuise boortjie om Delwina se nek, oor haar oorvloedige boesem tot by haar naeltjie net nie meer die inspanning hanteer nie. Alles wat binne in die paslike swart kerkrok was, oorspoel toe in die aangesig van die gemeente, en in die direkte aangesig van Dominee van Rijn.

Die katastrofiese konsternasie laat dink Oom Willie (van die snot-op-die-bril faam) aan die keer toe Pieter Stoetbul se bekroonde Brahmaan die mense ingevaar het op die jaarlikse veeskou.
Dit is asof Martie beheer oor haar vingers, te wyte aan die lagtrane in haar oë, op die orrel verloor het, en sy nou ‘n gepaste sirkuswysie met ‘n vêrlangse verwantskap aan die melodie van Praat en Mense Engletale speel. “Goeie Bliksem” dink Dominee. Hy kyk weg omdat sy oë nou vir die tweede keer in een week met naakte sonde beslaan word.

Met die dat Dominee wegkyk loop hy homself disnis in Rosa Blomwinkel se blommerangskikking vas. Met sy gespartel om beheer oor sy steierende bene te kry sien jy net wit rose en rooi angeliere vlieg soos hy probeer gryp na vashouplek. Hy lyk soos ‘n kraanvoël op ‘n treadmill. Delwina het intussen beheer oor haar sinne en blaas verloor, en toe flou geval. Twee diakens is besig om haar te lawe met water uit die doopvont uit; haar skaamte bedek met die lap wat Ouma Pietie spesiaal vir die nagmaal tafel gehekel het, mag sy steeds in vrede rus.

Rina staan met wydgestrekte arms en bene, met haar rug op die gemeente gedraai, voor haar suster. ‘n Vergeefse poging om Delwina se verleendheid weg te steek terwyl sy met haar spierwit polvye in haar suster se urine staan. Hierdie toneel sou die prentjie langs die word chaos in die prentjie-woordeboek wees.
Martie besluit om op te hou speel aangesien die orrel nie teen die kakofonie van die gemeente kan kompeteer nie. Net toe Martie die laaste lang noot los, is daar een van daardie onverklaarbare stiltes. En net toe daardie stilte aanbreek bulder Oom Pieter se stem van agter uit die kerk. “Waaroor die bohaai? Dis nie asof enige man bo veertig nie so twee dekades terug daardie paar tiete na-ure agter in Jan-se-Negosie vir R5.00 entrance gesien het nie.” Oom Pieter het vergeet om sy gehoorapparaat weer op te draai, vandaar die harde “fluister” wat alleenlik vir Koos Boep se ore bedoel was. Jan-se-Negosie is die algemene handelaar wat ook die na-uurse ontkleeklub is, en waarvan net die mans na hulle mondigwording geweet het. Tant Truitjie klap vir Oom Pieter teen die oor. Juffrou Benade bloos bloedrooi en besef sy is na dese haar addisionele inkomste kwyt.

Dominee van Rijn lyk soos die duiwel in die Kinderbybel.

Toe die kinders begin vrae vra, word hulle summier uitgeboender tuin toe. Dit is nie die tyd en plek om nou aan kinders dinge te verduidelik wat hulle nog nooit van gehoor of aanskou het nie. Klein Santie Verwey wou nog by haar Ma weet of Jesus ook die gemors aanskou het. Net een klap teen die oor was genoeg antwoord voor sy ook by die deur uit is.

Dominee van Rijn lyk soos die bedonderde duiwel in die Kinderbybel.

Die oorverdowende stilte het teruggekeer. Dokter het sy swart tassie in sy Merc gaan haal, en is besig om van die fynbesnaarde susters en vir broeder Chrisjan te lawe. Broer Chrisjan is net so bietjie meer emosioneel as die deursnit boeregemeenskap-broeder. Die feit dat hy die haarsalon en boetiek besit, en naweke by sy “vriend” in die stad gaan kuier maak hom net bietjie meer saggeaard. Die woord homoseksueel bestaan definitief nie in ‘n dorpie waar seksueel dit nog nie eers tot in die woordeskat gemaak het nie. As jy nie oor die taboe praat nie, bestaan dit nie. Teen tienuur is orde tot ‘n mate herstel. Die laerskoolkinders word deur die hoof-ouderling in die saal opgepas.

Die stomme Delwina is onseremonieel deur Rina in die poeierblou Volksie ingeboender. Delwina sal wel ‘n 40 kilometer lange, persoonlike preek, al die pad tot op die plaas van Rina af kry. Die skaamte!

Dominee van Rijn bestyg die preekstoel.

Martie worstel met die spontane gedagte om Phantom of the Opera te speel.

Dominee van Rijn lyk nog steeds soos die duiwel in die Kinderbybel.

Dominee maak sy keel skoon. “Broeders en Susters” bulder sy bariton. Hy kyk die gemeente een vir een in die oë. Jan-Negosie, Pieter, Koos Boep, Santie, Kleinjan, Dokter en Lizanette…een vir een. Hy bloos toe sy oë op Juffrou Benade rus. Hy bloos nog rooier vir sy terugblikke van Woensdag middae in die saal se kelder, toe sy oë deur Martie vasgevang word. Mevrou Dominee sug hoorbaar.

Dit is grafstil. Asems opgehou. Stilte en spanning voor die donderstorm wat nie met ‘n kettingsaag gekloof kan word nie.

“Broeders en Susters”, probeer hy weer.

Hy huiwer. Sy adamsappel wipplank soos hy sluk.

Hy lig sy hande in ‘n gebaar van vrede…..en hy glimlag sowaar vanaf die preekstoel!

Dominee van Rijn lyk soos ‘n engel in die Kinderbybel.

Die gemeente ontspan. Wel amper almal.

Dis net Santie en Kleinjan wat nog sit met die wete dat die twee van hulle wel nog kniediep in Oom Pieter Stoetbul se bekroonde Brahmaan se kak sit.

2 Responses to “Woordspel…Hel In Die Kerk”

  1. Toortsie Maart 13, 2013 at 7:24 vm #

    die dywil is los!!!!🙂

  2. brieweuitdievreemde April 1, 2013 at 12:08 nm #

    Brilliant😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: