Archive | Dagklad RSS feed for this section

January..February.. March..March..March..

24 Apr

Al wat ‘n unie is mobiliseer hulle lede alweer om die moolah-dans in die strate te doen. En dit is nog maar die begin……..

Ek probeer hierdie ding vir myself uitpluis. Natuurlik sonder enige sukses. Ons land se onderwys is al klaar besig om in die gutters tussen die bollie rond te dryf, maar onderwysers kan dit goeddink om ‘n skooldag af te vat om in die strate te gaan dans en sing. Die busdrywers loop ook tans te voet en die metaalwerkers unies van die motorbedryf laat weet al klaar dat hulle vir 20% gaan vra. Die staatsdienswerkers is seker ook nie vêr agter nie….en ek is amper seker daarvan daar is nog onuitgesorteerde nonsens met die myners saam.

Die feit dat die ekonomie knie-diep in die stront is maak natuurlik nie saak nie. Die feit dat maatskappye mense sal moet aflê om die ander se verhogings te kan bekostig is seker ‘n saak vir more. Oor ses maande word daar weer gedans oor die werkloosheid, want daar sal ‘n paar duisend nuwes wees.

Hierdie sirkus met die werkers, en die staat se nasionaliserings-praatjies veroorsaak ook dan verder dat die buiteland eerder hulle geldjies na ander Afrika-lande neem vir investering. Word wakker ANC! Suid-Afrika word nie meer gesien as die deur na Afrika nie!

Maar die ANC sal maar aanhou om die unies se nonsens op te vreet, want hulle het die stemme nodig vir die volgende verkiesing. Daar is ‘n mantel van politiek oor alles gesprei!

Ek herhaal my facebook status van vanoggend…..

January..February..March..March..March.

It is at times like this, during the South African strike season,

that I wish we had an Iron Lady,

or at least leaders in Government with some Iron Balls.

Advertisements

Hoe Ironies…

25 Mar

Terwyl Bafana Bafana die CAR 2-0 klop in sokker Saterdag aand

………word Suid-Afrikaanse troepe in die CAR doodgemaak.

1975 Demoerin Versnitting

4 Feb

Verjaarsdae moet soos goeie rooiwyn hanteer word.

Dit gaan nie oor die jaar wat jy ouer is nie;

As jy terugkyk, moet jy ‘n jaar beter wees.

Op ‘n dag….

29 Jan

…soos vandag, staan ek op en ek lag…en ek sing en ek speel en ek klouter….

Partykeer as jy seëninge tel, moet jy begin by die wat jou liefhet.

Selfs al is ek somtyds windskeef deur ‘n windmeul gebliksem;

Selfs al is ek somtyds grommend soos ‘n uitgehongerde beer;

Selfs al is ek somtyds (?) anal oor netheid;

Is hulle nog steeds lief vir my.

Dankie.

Oral…soos in ORALS

22 Jan

Dit omvou ons. Nie ‘n dief in die nag of ‘n krokodil wat stil lê en wag nie. Nee, dis oral om ons. In die koerante en op die televisienuus en in gesprekke om die braaivleisvure. Korrupsie en moord en doodslag en stakings en diefstal. ‘n Kokon van depressie en sleg omvou ons… en soos mense nou maar maak, kerm en kla ons, want al wat ons sien en ervaar is hierdie ongelooflike donker wolk wat oor ons hang.

En tog is dit oral om ons. Nie weggesteek onder matrasse saam met die begrafnisgeld of iewers begrawe onder ‘n palmboom op ‘n verlate eiland nie. Daar is mooi om ons. Elke sekonde van elke dag. Miskien is dit net ‘n verskuiwing van persepsie wat nodig is. Moenie op die donker wolke konsentreer nie, maar begin eerder konsentreer op die mooi om jou. Daardie sonsopkoms op die horison in die oggende as jy in die verkeer sit oppad werk toe. Die glimlagte van jou gesin wat bly is om jou te sien na ‘n lang dag by die werk. Die taxi wat jou ‘n kans gee nadat ‘n ander een jou vyf minute terug afgesny het.

Dit is tog allermins die silwer randjies wat jou gaan laat beter voel, en nie die donker wolk nie. En tog kies ons om op die donkerwolke te konsentreer? Ek dink as ons ons gemoedere die geleendheid gun om opgekikker te word met die mooi om ons, sal ons dalk met nuwe persepsies die donker wolke ook kan aanpak.

Jy hoef nie die mooi te gaan soek of uitgrawe nie. Mooi speel nie met ons wegkruipertjie nie. Dit is daar, elke sekonde van elke dag. Oral…soos in ORALS. In die sonskyn..of langverwagte reën. In glimlagte of vreugdevolle huppels…self op Youtube in ‘n 10 jarige se stem…..

 

PS…dankie vir die vreugdevolle glimlagte as ek by die huis kom elke dag.

Liefde en Vrede en Welwillendheid…..

20 Des

Dit is nie net 3 woorde nie. Dit is 3 woorde wat dade behoort te wees. Die feesseisoen is in volle swang, en almal skarrel. Dit is asof die mensdom in eekhorings verander het wat die laaste neute van die seisoen voor die winter versamel. Dink ons regtig nog aan die boodskap van Kersfees? ‘n Liefde so groot dat jy enigiets vir jou naaste sal doen. Ons lewe in ‘n wêreld met siek mense. Ons lees dit elke dag in die koerante. Ons sien dit in beeld op die nuus. Daar is videos op Youtube. Mense sê mekaar sleg op Twitter. Dit versprei soos ‘n veldbrand en mens kan net jou kop skud dat miljoene soveel genot uit ‘n ander se hartseer of haat kan put.

Wat het van die goeie boustene van menswees geword? Is liefde nou net vir familie en vriende gereserveer? Besef jy dat as ouer jou kind uit jou voorbeeld leer? Is jou haat en onmin met jou broer of oom of niggie of buurvrou die fondament waarop jy wil hê hul moet hul morele menswees skoei?

En daar bly altyd hoop. My Oupa is nou ‘n jaar terug oorlede, en ek het die voorreg gehad om hom vir 37 jaar te ken. En ter herinnering aan die mens wat hy was, en die voorbeeld wat hy gestel het…gaan ek hom nie net onthou nie, maar ook probeer om sy voorbeeld na die beste van my vermoë na te volg. Ek het byvoorbeeld in al daardie tyd hom nooit ‘n skewe of lelike woord oor enigiemand oor sê nie. Ons praat nie van 1 of 2 keer nie; NOOIT nie. Hy het onvoorwaardelik liefgehad. Hy het hartlik saamgelag. Is dit nie die tipe nalatenskap wat jy graag sou wil agterlaat nie?

As jy van jou hart ‘n leeukuil maak, gaan daar ‘n dag kom wat die leeus jou gaan opvreet. Liefde vir jou naaste beteken nie dat jy skielik hand aan hand met elke mens op straat gaan rondhuppel nie. Dit vra dalk net ‘n bietjie verdraagsaamheid. Dit vra dalk vergifnis. Dit vra dalk dat jy die minste moet wees en eerste die strydbyl begrawe. Dit vra dalk ‘n wag voor jou mond. Dit vra dalk dat jy ‘n ander se punt probeer verstaan.

Ek kan nie aan enige mens voorskryf aan hoe om sy lewe te lei nie. Ek is wel 100% daarvan seker dat as jy ophou om jouself met die negatiewe op te hou, jy ‘n baie gelukkiger en gesonder mens gaan wees. Poog daarna om die eerste naam op jou buurvrou se uitnodigingslys te wees, eerder as die laaste naam om getalle om die tafel vol te maak.

My wens vir een en elk, terwyl daardie stêr van hoop nog in die naglig flikker, is ‘n Kersfees gevul met liefde, vrede en welwillendheid…..en nie net die wat jy ontvang nie, maar ook die wat jy gee.

En dan..met die woorde van ‘n engelstem….

Neem my ouers en my vriende, in bewaring deur die nag….                                                                                             more dank ons U vir goedheid; gawe van ‘n nuwe dag…

Geseënde Kersfees

Nuuswaardig

27 Nov

Gisteraand was ‘n hartseer aand. Hoe vier jy die einde van ‘n persoon se 37 jaar as nuusleser op jou kassie, sonder om ‘n te voel dat daar ‘n familielid elke aand in jou voorhuis afwesig gaan wees? Riaan Cruywagen, daar is 2 woorde wat alles opsom; Wel Gedaan! ‘n Beter voorbeeld rakende werksetiek en werkspassie gaan jy lank soek om te vind. Jy kan maar net die afgelope paar dekades se koerante deurblaai, en besef dat die SABC nie ‘n paradys kon wees om voor te werk nie, maar tog het Riaan elke stukkie werk met die voorbeeld van ongekende profesionaliteit voltooi. ‘n Werklike voorbeeld vir elke Suid-Afrikaner. ‘n Ikoon. En soos Johan Stemmet gesê het….as jy wil weet hoe om Afrikaans te praat en korrek uit te spreek, dan kyk jy ‘n Riaan Cruywagen nuusberig.

Toe nou Shaleen, jy lyk al soos ‘n pruimedant….skuif op in my Jacuzzi en maak plek vir Riaan!

Dan lees jy ‘n berig in die Beeld. En dan wonder jy of daar skielik niks nuuswaardig in Suid-Afrika gebeur nie. Jy wonder of ‘n artikel oor Charlize en ouerskap nie gepas sou wees nie. Of hoe voel dit om in Suid-Afrika, jou geboorteland, aan ‘n Mad Max fliek te werk…..maar regtig…..sy het vir voorgereg 6 Altantiese Oesters teen R20 elk bestel…en net 4 geëet?

Wie besluit wat is nuuswaardig vir die aanlyn weergawe van ‘n koerant? Partykeer lyk dit vir my of elke persoon wat twee woorde bymekaar kan sit in ‘n sin, dit sommer op die koerant se webwerf kan gooi vir die land om te lees.

Of miskien is ek net moeg na ‘n lang jaar…….