Archive | WEW 2013 RSS feed for this section

WEW…29052013

29 Mei

Dit is moeilik om te luister na nuus. Dit is moeilik om te kyk na nuus. Dit is moeilik om nuus te lees. Dit is moeilik om sonder hartseer na my kinders te kyk.

Dit is kinderbeskermingsweek.

Kinders boelie kinders. Daar is kinderhandel. Daar is kinderprostitusie. Daar is kinder dwelmmisbruik. Kinders word vermoor. Kinders moor. Kinders pleeg selfmoord. Kinders word mishandel. Kinders is honger. Kinders is dors. Kinders het nie huise nie. Kinders word vetgevoer. Kinders leef van McDonalds. Kinders doen nie sport nie. Kinders lees nie. Kinders het die beddens nie. Kinders leef op straat. Kinders verwag babas. Kinders sorg vir kinders. Kinders kry nie liefde nie.

Nou wie de moer beskerm die kinders?

My hart is stukkend. My gemoed is pikswart.

Dit is kinderbeskermingsweek.

WEW…16042013

16 Apr

Ek wonder watter tipe mens plant ‘n bom of twee waar duisende onskuldige mense bymekaar is? Uit watter tipe yskoue staal is jou hart gesmee, dat jy net kan wegloop sonder om om te gee oor wie gedood of beseer gaan word?

Terreur aanval is die dekmantel wat hulle daaroor wil gooi. Ek gaan onskuldige mense na ‘n vroeë graf stuur; of vermink laat vir die res van hulle lewens – net omdat ek ‘n punt wil maak.

My brein maal dit oor en oor en die resultaat is elke keer dieselfde; dit is onverstaanbaar.

Wat ek wel verstaan is dat daar nou gesinne sonder ouers is.

Wat ek wel verstaan is dat daar ‘n gesin is, wat vandag minus ‘n 8-jarige kind is.

Dit is daaroor wat my hart uitmekaar wil skeur, want hy is nie gesmee uit yskoue staal nie.

WEW….14032013

14 Mar

Ek wonder hoekom die Nasionale Vervolgings Gesag….nou skielik na 25 jaar beendere gaan oopkrap? Wat wil hulle hiermee bereik? As hulle vir Winnie en enige van haar “football club” thugs wou aanvat…was die beste tyd nie 25 jaar terug nie?

Ek wonder verder hoe die verbod op die verkoop van alkohol op ‘n Sondag, gaan help met die bekamping van drankmisbruik….

Derdens……

Waaroor ek nie wonder nie, is hoekom die nuwe pous gekies het om as Francis I bekend te staan. Dit bly vir my een van die gebede wat my poging tot ware menswees en Christenskap perfek opsom.

Here, maak my ‘n instrument van U vrede,
Dat ek liefde mag bring waar daar haat heers,
Eendrag waar onenigheid heers,
Hoop waar wanhoop heers,
Blydskap waar droefheid heers.

Gee, Here dat ek nie sal soek om getroos te word nie, maar om te troos,
Nie om begryp te word nie, maar om te begryp.
Nie om te ontvang nie, maar om te gee,
Want wie gee, ontvang;
Wie homself vergeet, vind;
Wie vergeef, sal verfifnis ontvang.

– St Fransiskus van Assisi –

 

WEW…19 02 2013

20 Feb

Waaroor ek wonder, na aanleiding van ‘n storie wat ek gister gehoor het….

Jy as ouer

Jy as voorbeeld

Jy as mens….

Hoe vlak moet jy nie wees….

Hoe leeg moet jou lewe wees….

As jy langs die netbalveld kan sit en in jou groepie afbrekend en afkrakend teenoor ‘n groep 8 en 9 jarige dogtertjies kan wees.

Almal kan nie sportstêrre wees nie, net soos almal nie geniaal kan wees nie. Is dit nie beter vir ‘n kind om te probeer, en daardeur aktief is, as om voor die televisie te lê met ‘n McDonalds burger nie?

Ek kan dit nie eers op die laagste vlak van my menswees verstaan nie.