Archive | Woordspel RSS feed for this section

Woordspel…Hel In Die Kerk

5 Mar

BELOFTES MAAK SKULD! HIER IS DIE VERVOLG….

Hel In Die Kerk

Die aarde sweet sommer al vroeg-vroeg. Middel somer in die Noord-Transvaal is nie vir sissies nie, ook nie vir boeties nie. Dit is Sondag-oggend, sewe-uur. Die verkeer in Kerkstraat is soos een van Tant Ralie se bazaar-koeksusters geknoop. Daar is ‘n gebeduie en getoet vir ‘n vale; en as mens na die gekruide taal luister sal jy nie jouself kan indink dat almal oppad kerk toe is nie.

Die dorp skinder nou al vir 3 dae aaneen oor Woensdag se komiese sirkus gebeure wat binne en buite die dokterskamers plaasgevind het. Mientjie van die sentrale se senuwees het gistermiddag ingegee, kort voordat haar liggaam en gees dieselfde gedoen het. “Stress”, het Sarie van die Poskantoor vir almal vertel. “Die stomme Mientje het net standerd vyf. Sy kon nie lekker kophou met die inkomende oproepe en nommers en besige lyne en inluistery en afluistery nie. Sy sal nie eers kan kerk toe more nie.” So het Ant Anna Verwey, Sarie se gesprek met Jan van die apteek, aan Anna Breipen oorgedra. Dit is nie dieselfde Anna nie.

Lees voort

Advertisements

Woordspel…Wagkamer Konsternasie

1 Mar

Daar sit hulle, knit-one-skip-one, al in die rondte teen die wagkamer se mure. Al ken almal mekaar, word daar nie ‘n woord gerep nie. Die wir-wir van die lugversorging verbreek die stilte, en in die hoek op die televisie seil ‘n Bok oor die doellyn vir nog ‘n drie in hul wêreldbekerstryd teen die All Blacks. ‘n Paar van die mans staar vasgenael na die wedstryd. Al die vrouens is gatvol vir rugby.

Lizanette sit agter die toonbank. Sy is die ontvangsdame, rekeningeklerk, verpleegster, dokter se tweede regterhand en skelmpie. Presies hoe dit moet wees op ’n klein dorpie. Sy is mooi, dalk is smeulend eerder die regte woord; en sy weet dit. Sy kan voel hoe Kleinjan, die hoërskool se stêr-heelagter se oë haar uittrek vandat hy daar ingestap het. Sy bloos nie eers nie. Kleinjan kyk weg.

“Ahhhhh, Ahhhhhh, Ahhhhhh – TIIISSSUUUUEEEEE”, Lizanette onthou sy het laasweek in een van Dokter se joernale gelees dat ‘n nies teen 150 kilometer per uur kan beweeg. Die gedagte het skaars  geflikker of daar was absolute konsternasie.

Lees voort

Mik vir Goud!

13 Sep

Die Paralimpiese Spele het gekom en gegaan. Wat egter nie gegaan het nie, en nie vergete sal agterbly nie, is die absolute verwondering wat hierdie atlete in my gekweek het. Hoe maklik is dit nie om te kla, al loop jy met ‘n witbrood onder die arm rond nie? Hoe maklik is dit nie om uit te stel, as jy weet afstel gaan volg nie? Hoe maklik is dit om ‘n berg van ‘n molshoop te maak as iets onbenullig jou dalk nie pas nie?

 

The Paralympian

Life showered misfortune;
You brushed it aside.
Fate placed the hurdle;
You scaled it with ease.

Easy it would never be;
That promise never made.
On track and field, in pool;
You surpass disability.

Your sheer determination
Convert to winning gold.
Excel for your country;
By defying nature’s odds.

Whether a flag is hoisted
Or an anthem played;
First or last, as always,
Remains but a number.

My eyes share joyful tears,
With every dream come true.
My head bows in shame,
Perceiving lack so trivial.

Life put you in a race,
Willpower shaped a champion.
Your example merits respect,
I salute you, The Paralympian.

Ek wil julle uitdaag om my laaste strofe te steel en hom in groot, vet, swart letters uit te druk – net om jou elke dag te herinner aan hoe geseënd jy EINTLIK is.

Woordspel….Noodlot (Waarskuwing: Taal)

27 Jul

NOODLOT

“Hoe beland ek altyd kop-oor- stert in die kak?” top Pieter.
Die somerson se weerkaatsing van die swembad af verblind hom. Sweet straal langs sy slape af. Met skrefies-oë probeer hy fokus op die figuur op die houtdek in die oorgrootte sonstoel. Druppels pêrel op sy voorkop. Sy handpalms is sopnat. Sy hart is op gallop. Hy is in groot moeilikheid. Geen mens durf swaarde kruis met André Wagenaar nie. Nie tensy jy jou kniekoppe en vingers lief het nie. Bliksem.

Dit is stil, behalwe vir die geplas van die figuur wat in die water verbyswem. Jy wag seker totdat daar met jou gepraat word hier. Die oudste trick in die boek as dit by ondervraging kom. Bliksem.

Lees voort

Woordspel….Sonoffer

19 Jul

Vir Son …..

Sonoffer

Winter, O seisoen Delila

Wat listig die oë agter glas;

Verraai met beloftes van

Hitte, sonskyn; wat Somer was!

Winter, O seisoen Delila

Wat slinks die oë agter glas;

Verblind vir geraamte bome

En die vaal, doodgerypte gras!

Winter, O seisoen Delila

Wat skelm die oë agter glas;

Wil breinspoel van gedagtes

Van hoe my geliefde Somer was.

Winter, Delila, Winter

Hoor jy al die donder knal?

Met klip sal ek ‘n altaar bou;

In jou ysig’ strik sal ek nie val!

Ek sal ‘n warm vuur laat brand;

Offer die serp en jas en mus!

Kom terug o warm Somerson;

Kom les my smagtend’ hittelus.

Woordspel….Ingekleurde Doodsberigte

7 Okt

INGEKLEURDE DOODSBERIGTE

Onbewustelik word die regmerkies in my gedagtes gemaak. Onbewustelik ja; ’n getuigskrif van ‘n ou gewoonte. Ten minste 10 jaar om presies te wees. ’n Pot varsgebroude Douwe Egberts koffie (die groen pak), koffiebeker, melk, suiker, asbakkie, sigarette, Bic aansteker…en dan laaste natuurlik die koerant. Elk netjies op sy plekkie. Die koerant is oopgevou. Doodsberigte.

Ek skink die eerste beker koffie. Ek begroet die aroma met ’n diep asemteug. Ek steek die eerste siggaret aan en skuif die koerant nader.

  Lees voort

Woordspel…Kinderstorie

17 Aug

Xena het huiswerk uitgedeel….en hier is my probeerslag vir ‘n Kinderstorie. Dis baie moeilik om nie ‘n storie met ontploffings, dood en bloed te skryf nie…..

Sannie Seekoei Mag Nie Dans Nie.

Koning Lodewyk Leeu sug. Hy tik ongeduldig met sy naels op die troon se armleunings. Hy haat Vrydae. Op Vrydae staan die inwoners van Diereland in ‘n ry wat vêr verby die Groot Boom strek. Hulle het probleme, en hulle verwag van Koning Leeu om dit uit te sorteer.

Karin Kraai kla oor die diere wat hulle blink goetertjies terugeis wat sy so met sorg optel. Optelgoed is mos vatgoed, en haar nes lyk baie fraai. Frank Volstruis het weer ’n appeltjie te skil met Babsie Bosaap wat van agter die boomblare vir hom loer. Dit maak hom senuweeagtig. Oupa Olifant brom oor Hansie Hiëna wat hom uit die slaap uithou met sy gelaggery, en Hansie Hiëna is weer kwaad vir Ansie Aasvoël wat sy kos steel.

So gaan dit aan tot die warm bosveldsonnetjie begin sak oor die vlaktes. Met ’n sug van verligting sien Koning Leeu dat Sannie Seekoei en Kallie Kabouter, uit Kabouterland, die laaste twee in die ry is. Hy wink hulle nader. Koning Leeu beduie vir Sannie om te praat.

”Koning Leeu, ek is baie ongelukkig omdat Kallie Kabouter vir Juffrou Flamink, die ballet onderwyseres, gesê het dat ek nie aan die kinderdans in die lentefees sal kan deelneem nie” stotter Sannie tussen haar trane deur.

”En hoekom mag dit wees Kallie?” vra Koning Leeu ongeergd met die lig van sy wenkbroue. Hy duld nie onmin tussen die Diere en hul bure uit Kabouterland nie.

”Koning Leeu, ons waardeer die geleendheid wat u vir die Kabouters gee om die verhoog vir die Lentefees te bou. Ek probeer nie lelik wees nie, maar ek wil u net herinner aan die jaar toe Sannie se Ma, Sandra Seekoei gedans het.”

Dit is moeilik vir Koning Leeu om nie met ’n glimlag aan daardie konsternasie te dink nie. Dit was so halpad deur die Swanemeer ballet wat Sandra ’n sprong gemaak het, en met ’n groot lawaai regdeur die verhoog geval het.

”U sien Koning Leeu, ons kan net nie ’n sterk genoeg verhoog bou waarop ’n Seekoei kan dans nie” sluit Kallie af.

Sannie Seekoei bars met ’n snik in trane uit.

”Sannie,” sê Koning Leeu in ’n sagte stem ”dit is veiliger dat jy nie aan die dans deelneem nie.” Koning Lodewyk Leeu staan langsaam op en verdwyn agter die doringboom. Dit was ’n lang dag, en dit is moeilik om almal altyd tevrede te stel.

Met ’n hartverskeurende gehuil waggel Sannie daar weg, in die rigting van die dam. Dit is nie regverdig nie! Sy wil ook aan die lentefees deelneem, en die enigste item vir kleuters is die kinderdans!

Nadia Nagtegaal vlieg uit die doringboom uit agter Sannie aan. Haar hart voel baie seer vir klein Sannie, en sy sal haar probeer troos.

Dit is nog twee weke voor die Lentefees, en miskien kan Nadia ‘n plan maak.

Deur die dag kon Sannie maar net met hartseer sit en kyk hoe die ander kleuters die dans oefen. Sy wonder dan hoekom sy nou juis ’n Seekoei moes wees wat nie aan die dansitem kan deelneem nie. Hoekom kon sy nie so klein en fyn soos Martie Muis wees nie? Maar, in die aand as die son sak begin sy weer vrolik voel. Dit is wanneer sy in die maanlig sluip tot agter die riete waar sy vir Nadia Nagtegaal ontmoet.

Die aand van die lentefees kom nader en almal in Diereland maak gereed vir die Lentefees. Al die bure uit Kabouterland en Feëtjieland is ook genooi. Die diere werk hard aan hulle items. Olga Uil gaan ‘n gediggie voorlees. Hansie Hiëna gaan seremoniemeester wees en die gehoor met grappies vermaak. Koos Krokodil gaan op sy viool speel, en Hennie Haas en die Hase gaan ’n klopdans item lewer. Dierasie, die hoërskoolorkes gaan ook ’n paar loslit nommers vir die jonger geslag speel.

Na maande se oefen het die aand uiteindelik aangebreek. Die pragtigste lenteaand. Vuurvliegies flikker in die bome, en die laaste van die gaste het net gesit toe Oupa Olifant die aand open met ’n trompettergeskal.

Die program verloop seepglad en al die deelnemers kry staande toejuigings. Toe Dierasie se laaste kitaarklanke oor die heuwels weergalm neem almal weer hul sitplekke in nadat hul bietjie litte losgedans het. Die Lentefees word elke jaar afgesluit met die Lied van die Diere, gesing deur Nadia Nagtegaal. Die Paddakoor en Orkes is gereed voor Pedro Padda, die dirigent, met sy stokkie omhoog.

Die orkes begin speel, en die paddakoor kwaak saggies. Die musiek en Paddakoor word geleidelik harder, en op die plek waar Nadia Nagtegaal gewoonlik invlieg en die solo sing – snak die gehoor skielik na hul asems…..

Van agter uit die gehoor kom die mooiste stem wat hulle al ooit gehoor het. Almal kyk om en staan op om te sien wie so mooi kan sing. Sy stap stadig vorentoe en sing die Lied van die Diere. Die maanlig glinster op haar blink rok, en die Diere, Kabouters en Feëtjies is in vervoering meegesleur. Dit is Sannie Seekoei!

”….elke dier het ’n plek, in eenheid in Dierelaannnd.” Die gehoor het geklap en encore geroep nog voor die orkes hul laaste note gespeel het.

Sannie Seekoei kon nie dans nie, maar sy was die stêr van die aand.