Woordspel…Wagkamer Konsternasie

1 Mar

Daar sit hulle, knit-one-skip-one, al in die rondte teen die wagkamer se mure. Al ken almal mekaar, word daar nie ‘n woord gerep nie. Die wir-wir van die lugversorging verbreek die stilte, en in die hoek op die televisie seil ‘n Bok oor die doellyn vir nog ‘n drie in hul wêreldbekerstryd teen die All Blacks. ‘n Paar van die mans staar vasgenael na die wedstryd. Al die vrouens is gatvol vir rugby.

Lizanette sit agter die toonbank. Sy is die ontvangsdame, rekeningeklerk, verpleegster, dokter se tweede regterhand en skelmpie. Presies hoe dit moet wees op ’n klein dorpie. Sy is mooi, dalk is smeulend eerder die regte woord; en sy weet dit. Sy kan voel hoe Kleinjan, die hoërskool se stêr-heelagter se oë haar uittrek vandat hy daar ingestap het. Sy bloos nie eers nie. Kleinjan kyk weg.

“Ahhhhh, Ahhhhhh, Ahhhhhh – TIIISSSUUUUEEEEE”, Lizanette onthou sy het laasweek in een van Dokter se joernale gelees dat ‘n nies teen 150 kilometer per uur kan beweeg. Die gedagte het skaars  geflikker of daar was absolute konsternasie.

Lees voort

WEW…19 02 2013

20 Feb

Waaroor ek wonder, na aanleiding van ‘n storie wat ek gister gehoor het….

Jy as ouer

Jy as voorbeeld

Jy as mens….

Hoe vlak moet jy nie wees….

Hoe leeg moet jou lewe wees….

As jy langs die netbalveld kan sit en in jou groepie afbrekend en afkrakend teenoor ‘n groep 8 en 9 jarige dogtertjies kan wees.

Almal kan nie sportstêrre wees nie, net soos almal nie geniaal kan wees nie. Is dit nie beter vir ‘n kind om te probeer, en daardeur aktief is, as om voor die televisie te lê met ‘n McDonalds burger nie?

Ek kan dit nie eers op die laagste vlak van my menswees verstaan nie.

In My Jacuzzi…Ester Vergeer

13 Feb

Op 8 jarige ouderdom het Ester Mary Vergeer ‘n parapleeg geword. Tydens rehabilitasie is sy voorgestel, en het sy geleer om vlugbal, basketbal en tennis in haar rolstoel te speel. Ester was deel van die Nederlandse basketbal span wat die Europese titel in 1997, op 16 jarige ouderdom gewen het. Intussen het sy ook in 1996 aan haar eerste internasionale tenniskampioenskap deelgeneem, en toe in 1998 voltyds begin tennis speel; en ook sommer die Amerikaanse kampioenskap in 1998 gewen.

 

 

Esther_Vergeer_2010

Vyftien jaar later het Ester besluit om nou uit te tree. In haar ongelooflike loopbaan het sy 687 enkelspel wenne en 440 dubbels wenne agter haar naam. Sedert Januarie 2003 het Ester nog nie een toernooi verloor nie; 470 wenne in ‘n ry. Tussen Augustus 2004 en Oktober 2006 het sy 250 agtereenvolgende stelle gewen, met sleg 1 wat ‘n valbylpot was.

Ek maak met graagte vir Ester ‘n plekkie in my Jacuzzi. As ek moet aanhou om Ester se lof te besing gaan hierdie inskrywing ‘n paar folios lank word. Gaan Google maar gerus, en verwonder jou aan die deursettingsvermoë van hierdie vrou.

Wat ek wel wil doen, is om my hoed te lig, en Ester al die geluk vir haar aftrede toe te wens…… welgedaan om die allerbeste in jou sport vir 15 jaar te kan wees, en jy is nou eers 31 jaar oud.

Party mense en hulle stories kan nie anders as om mens te inspireer nie.

Ons klink ‘n glasie gevul met my huidige gunsteling wittetjie, Rustenberg se Ida’s White, op ‘n ware heldin. Ek wens tog vandag se kinners wil ordenklike helde soos Ester kry!

Gesondheid!

 

1975 Demoerin Versnitting

4 Feb

Verjaarsdae moet soos goeie rooiwyn hanteer word.

Dit gaan nie oor die jaar wat jy ouer is nie;

As jy terugkyk, moet jy ‘n jaar beter wees.

Op ‘n dag….

29 Jan

…soos vandag, staan ek op en ek lag…en ek sing en ek speel en ek klouter….

Partykeer as jy seëninge tel, moet jy begin by die wat jou liefhet.

Selfs al is ek somtyds windskeef deur ‘n windmeul gebliksem;

Selfs al is ek somtyds grommend soos ‘n uitgehongerde beer;

Selfs al is ek somtyds (?) anal oor netheid;

Is hulle nog steeds lief vir my.

Dankie.

Oral…soos in ORALS

22 Jan

Dit omvou ons. Nie ‘n dief in die nag of ‘n krokodil wat stil lê en wag nie. Nee, dis oral om ons. In die koerante en op die televisienuus en in gesprekke om die braaivleisvure. Korrupsie en moord en doodslag en stakings en diefstal. ‘n Kokon van depressie en sleg omvou ons… en soos mense nou maar maak, kerm en kla ons, want al wat ons sien en ervaar is hierdie ongelooflike donker wolk wat oor ons hang.

En tog is dit oral om ons. Nie weggesteek onder matrasse saam met die begrafnisgeld of iewers begrawe onder ‘n palmboom op ‘n verlate eiland nie. Daar is mooi om ons. Elke sekonde van elke dag. Miskien is dit net ‘n verskuiwing van persepsie wat nodig is. Moenie op die donker wolke konsentreer nie, maar begin eerder konsentreer op die mooi om jou. Daardie sonsopkoms op die horison in die oggende as jy in die verkeer sit oppad werk toe. Die glimlagte van jou gesin wat bly is om jou te sien na ‘n lang dag by die werk. Die taxi wat jou ‘n kans gee nadat ‘n ander een jou vyf minute terug afgesny het.

Dit is tog allermins die silwer randjies wat jou gaan laat beter voel, en nie die donker wolk nie. En tog kies ons om op die donkerwolke te konsentreer? Ek dink as ons ons gemoedere die geleendheid gun om opgekikker te word met die mooi om ons, sal ons dalk met nuwe persepsies die donker wolke ook kan aanpak.

Jy hoef nie die mooi te gaan soek of uitgrawe nie. Mooi speel nie met ons wegkruipertjie nie. Dit is daar, elke sekonde van elke dag. Oral…soos in ORALS. In die sonskyn..of langverwagte reën. In glimlagte of vreugdevolle huppels…self op Youtube in ‘n 10 jarige se stem…..

 

PS…dankie vir die vreugdevolle glimlagte as ek by die huis kom elke dag.

Liefde en Vrede en Welwillendheid…..

20 Des

Dit is nie net 3 woorde nie. Dit is 3 woorde wat dade behoort te wees. Die feesseisoen is in volle swang, en almal skarrel. Dit is asof die mensdom in eekhorings verander het wat die laaste neute van die seisoen voor die winter versamel. Dink ons regtig nog aan die boodskap van Kersfees? ‘n Liefde so groot dat jy enigiets vir jou naaste sal doen. Ons lewe in ‘n wêreld met siek mense. Ons lees dit elke dag in die koerante. Ons sien dit in beeld op die nuus. Daar is videos op Youtube. Mense sê mekaar sleg op Twitter. Dit versprei soos ‘n veldbrand en mens kan net jou kop skud dat miljoene soveel genot uit ‘n ander se hartseer of haat kan put.

Wat het van die goeie boustene van menswees geword? Is liefde nou net vir familie en vriende gereserveer? Besef jy dat as ouer jou kind uit jou voorbeeld leer? Is jou haat en onmin met jou broer of oom of niggie of buurvrou die fondament waarop jy wil hê hul moet hul morele menswees skoei?

En daar bly altyd hoop. My Oupa is nou ‘n jaar terug oorlede, en ek het die voorreg gehad om hom vir 37 jaar te ken. En ter herinnering aan die mens wat hy was, en die voorbeeld wat hy gestel het…gaan ek hom nie net onthou nie, maar ook probeer om sy voorbeeld na die beste van my vermoë na te volg. Ek het byvoorbeeld in al daardie tyd hom nooit ‘n skewe of lelike woord oor enigiemand oor sê nie. Ons praat nie van 1 of 2 keer nie; NOOIT nie. Hy het onvoorwaardelik liefgehad. Hy het hartlik saamgelag. Is dit nie die tipe nalatenskap wat jy graag sou wil agterlaat nie?

As jy van jou hart ‘n leeukuil maak, gaan daar ‘n dag kom wat die leeus jou gaan opvreet. Liefde vir jou naaste beteken nie dat jy skielik hand aan hand met elke mens op straat gaan rondhuppel nie. Dit vra dalk net ‘n bietjie verdraagsaamheid. Dit vra dalk vergifnis. Dit vra dalk dat jy die minste moet wees en eerste die strydbyl begrawe. Dit vra dalk ‘n wag voor jou mond. Dit vra dalk dat jy ‘n ander se punt probeer verstaan.

Ek kan nie aan enige mens voorskryf aan hoe om sy lewe te lei nie. Ek is wel 100% daarvan seker dat as jy ophou om jouself met die negatiewe op te hou, jy ‘n baie gelukkiger en gesonder mens gaan wees. Poog daarna om die eerste naam op jou buurvrou se uitnodigingslys te wees, eerder as die laaste naam om getalle om die tafel vol te maak.

My wens vir een en elk, terwyl daardie stêr van hoop nog in die naglig flikker, is ‘n Kersfees gevul met liefde, vrede en welwillendheid…..en nie net die wat jy ontvang nie, maar ook die wat jy gee.

En dan..met die woorde van ‘n engelstem….

Neem my ouers en my vriende, in bewaring deur die nag….                                                                                             more dank ons U vir goedheid; gawe van ‘n nuwe dag…

Geseënde Kersfees