Tag Archives: winex

Contestants… ARE YOU READY!!

29 Okt
514px-Michelangelo_Caravaggio_007

Bacchus Deur Caravaggio

Groot was my verbasing (en tot my lewer se onmiddelike spyt) toe ek die uitnodiging van my vriende Bacchus en Dionysus ontvang vir ‘n bietjie middel van die week buitemuurse aktiwiteite. Ek was vas beslote, hierdie keer gaan ek hulle wys hoe Dawid die wortels versuip het. Gewapen met ‘n potlood, proe-notaboekie en ‘n glas het ek probeer om ongesiens in te sluip en rustig van ‘n hoekie af aan die spel te begin deelneem.

My onder-die-dekmantel, agter die skerms deelname was egter van korte duur, want toe Bacchus my eers gewaar, merk ek toe hoe hy knipoog in Dionysus se rigting…. en toe is dit verby. Bacchus speel sy troef en gooi meer as ‘n duisend uitstekende Suid-Afrikaanse wyne op die tafel. As dit strip-poker was het ek kaalgat daar uitgeloop.

Of jy nou van wyn hou of nie, die verskeidenheid wat by WINEX aangebied word is ongelooflik. Ek het probeer hou by die minder bekende, kleiner kelders of die boetiek-kelders, maar daar was selfs te veel van hulle, en die ongelooflike verskeidenheid, en die feit dat ek nie regtig voorkeure het as dit by Droë wit of rooiwyn kom nie, maak die proses net soveel makliker. Die ander pluspunt is dat jy natuurlik ook die kans kry vir proetjies uit die duurder bottels uit.

Life-From-Stone-2009Na al die geproe moet ek erken Springfield se “Life From Stone” bly nog een van my groot gunstelinge. Tee R80+ per bottel is dit seker bietjie duur vir ‘n Sauvignon Blanc, maar glo my as ek sê dit is elke sent vir elke milliliter werd.

Daardie quartz-klip hange waar hierdie wingerde staan verleen net op ‘n manier ‘n baie unieke smaak aan hierdie wyn…. in tweede plek sal ek Diemersdal se “8 Rows” ingooi, maar slegs tweede omdat dit nog duurder is.

Vir ietsie meer bekostigbaar, kan Bellevue Estate: Morkel se Sauvignon gerus probeer word – Ook met ‘n baie unieke smaak.

Sover dit die rooies aangaan het ek probeer (lees hard probeer) om by die versnittings te hou. Ek geniet op die oomblik die versnittings meer aangesien dit aan my ‘n baie meer “smooth” smaak gee. Daar was ‘n hele paar gunstelinge, maar ek wil graag die “Z” en “Fushion V”, beide van De Toren, en dan “Atticus”, weereens van Morkel uitlig.

As jy jouself in Jozi bevind, die WINEX is nog aan tot Vrydag aand by Sandton Convention Centre, en definitief die ingangsfooi en die hoofpyn werd.

PS. En Gelukkige verjaarsdag aan die Suid-Afrikaanse Wynbedryf – ‘n Volle 350 jaar oud!