Elixir of Youth….

Ek het dit gevind…. dit kom in verskeie vorme. Hierdie byvoorbeeld is die Olmega weergawe, dit kan ook onder die name Cuervo, Agave ensovoorts op die rakke staan.

Ok, eintlik praat ek nou bollie, van moerawiese proporsies. Jeug het absoluut niks met ouderdom te doen nie (ook nie alkohol, of roompies, of rek-en-strek nie). Dit is ‘n mindset. Mens maak self die besluit oor hoe oud, of hoe jeugdig jy wil wees. Dit help ook as mens vriende en familie met dieselfde idee het, en dan kan mens almal saam, al is dit net af-en-toe, vir verantwoordelik by die venster uitbliksem en net bietjie jouself geniet… dit doen wondere vir die gees…. maar nie altyd vir die lewer nie.

30.7018 + 14% BTW

Dit is wat my toereteller vandag skop. Antie Koekie het daar by Flintie ‘n interessante ding gesê, toe ek noem van hoe musiek herinneringe terugbring. Ek het gedink vandag is die dag om terug te dink, en die songs met julle te deel wat vir my spesiale herinneringe oproep.

  • Siembamba: Vakansies aan Ouma se voete vir storietyd. Sy het altyd om een of ander weird rede vir ons die nougat in balletjies gerol.
  • Baby Makes Her Blue Jeans Talk van Dr.Hook: Ek het grootgeword met permanente radios of plate wat in die huis gespeel het, vandaar seker my liefde vir ‘n baie wye verskeidenheid musiek. Hierdie was my gunsteling song, en my Pa moes altyd eerste die plaat vir my speel. Die plaat het naderhand ‘n “krap” gekry…. net op die song. Gmf.
  • Put Your Sweet Lips A Little Closer van Jim Reeves was my Ouma se gunsteling liedjie. Laat my altyd aan haar dink.
  • In Standerd 5 het ons ‘n Wakkerblyaand by die skool gehad. Oor die Hi-Fi het ons laat blêr: Boom Boom Boom, Let’s Go Back to My Room van Paul Lekakis, en Strip for Me Babe van Man2Man meet Man Parrish. Die arme Ingelse juffrou het amper hartversaking gehad.
  • Ook omtrent hierdie tyd het ek my eerste volwaardige holiday romance gehad. Ek kan nie haar naam onthou nie, maar sy was van Klerksdorp, en ons was by Badplaas met vakansie. “Ons song” was Tiffany se I Think We’re alone Now.
  • Kim Wilde se Kids in America. Ek het so ‘n moerse crush op die vrou gehad, ek sien nog die wilde-blonde-hare-guitar-chick foto voor my.
  • Jennifer Rush se Ring of Ice het altyd by die ysskaatsbaan gespeel.
  • U2 se hele Joshua Tree album sal een van die beste albums van alle tye bly.
  • Freddie Mercury en Queen se Bohemian Rhapsody bly een van die beste songs ooit. Daar is min mense wat ‘n mengelmoes van style van opera, tot acapella en ‘n rock solo met sukses in een song saam kan vat. Musikale Genieskap.
  • My beste pel in Londen was ‘n Aussie. Ons local was Bar Oz, en elke keer wat ons daar ingestap het was die eerste twee songs op die Jukebox: Men at Work se Down Under, en Africa van Toto.
  • Boston se More Than A Feeling en Johnny Clegg se Great Heart laat my altyd aan RWC 1995 terugdink.
  • Met die Tina Turner konsert in die Joburg Stadion was ek agter op die Big Screen in ‘n seker 20×20 meter video besig om ‘n girl se mangels te stofsuig… TT het On Silent Wings gesing, en die mense om ons het gepoint.
  • Unchained Melody laat my altyd dink aan vlieënde stukke klei.
  • Daar is iets aan Puccini se Nessun Dorma wat my altyd wil laat tjank – ek probeer nog die memory vind wat hierby pas – miskien is dit net moer goed gekomponeer?
  • Pieter Smith se Blomme was my en Christine se gunsteling Afrikaanse song. Hierdie een is vir jou Stoffel:

Daar is seker nog vele meer, maar dit is die waaraan ek nou kan dink. Deel met ons jou herinneringe.

WEW…±4 van (Baie Meer)

Ek wonder hoe iemand met die volgende soekenjin term by my blog uitgekom het:

“ek wil ophou drink”

Sorry, ek kan jou nie help nie. Ek het in November ophou rook, ek glo nie my liggaam sal nog so ‘n skok binne ‘n jaar kan hanteer nie. Iewers moet mens ‘n lyn trek……..

Ek wonder ook oor die volgende: Waar koop mens die nuutste BMW X5 MT. Die MT staan vir Merlin Towerland. Dit is die een waar jy jou flikkerlig aansit om te wys jy wil regs van baan verwissel…. en dan **puff** is daar skielik ‘n opening waar daar oomblikke gelede nog ‘n kar (ek) was. Sorry vir jou Wit BMW X5, WWB 422 GP – daardie opsionele ekstra is nog nie beskikbaar nie – Soos die res van die land se fokken bestuurders wag jy tot iemand vir jou ‘n gaping gee….. shame, miskien is dit eintlik ‘n wesie X5 deur ‘n taxi grootgemaak.

Spesiale Aanbod!

Verjaarsdagweek het Saterdag afgeskop – Ek het bietjie saam die familie gesellig op my lappie aarde verkeer. Baie kos, baie alkohol, baie lekker. As daar een ding is wat my familie goed kan doen is lekker kuier, geseën met goeie alkohol-toleransie.

“Hoe oud is jy die week” vra my niggie. “Moer oud” antwoord ek. “Nou dink net hoe de fok moet ek voel” antwoord sy. Baie waar, daar is altyd ‘n ligpuntjie, haar dogter het hierdie jaar 21 geword.

Ek het ook ‘n middernagtelike besoek aan Rasta gebring met ‘n bottel Tequila onder die arm: toe die laaste gaste gery het, en ek agtergekom het dit is volmaan….

Maar wag.. dit is nie al nie, net vir vandag is daar ‘n Deel II aan hierdie inskrywe:

Daar vlieg weer bietjie huiswerk in die blogosfeer rond, en die herriemerrie het my bygekom (sy blameer natuurlik vir vlam) :lol:

Ek moes nou in my brein se filing kabinet gaan rondkrap en soek na skrywes wat ‘n indruk op my gemaak het. Dit is makliker gesê as gedaan – Ek hou nie juis boek van dit nie, en my brein se filing is meer deurmekaar as die liasseerwerk op kantoor. Ek kan onthou ek het baie gelees, en daar is baie dinge wat my aangeraak het, en baie dinge wat vir my die blogosfeer pret, in plaas van werk gemaak het.

Ek onthou die motto tag is een van die wat ek die meeste geniet het, met ‘n pragtige raak-vat deur BB. Dan het Dellie gesorg vir een van my ander gunsteling tags: Die Tandemstories… en eendag sal die storie klaar, belowe :wink: En nie net omdat sy my tandemmaatjie is nie, maar ek lees altyd dinge by Sonkind raak wat aan my vat, en daarom verdien sy haar blog-toekenning van laas jaar. Nog ‘n gunstelingskrywer is Johan, en ek kan spesifiek hierdie stuk oor Jurie se perfekte CD’s onthou. Ek moes dikwels sy skrywes 2 of 3 keer lees, maar een ding wat ek en Emil in gemeen gehad het… is hierdie droom op twee bene. Ek is natuurlik glad nie gelukkig daarmee dat Emil ophou blog het nie…. en ook nie oor Wipneus wat altyd sulke interessante sterre-inskrywings gehad het nie.

Ek wil ook dan net spesiale vermelding maak van skrywes van 2 van die “newer-kids-on-the-blog”…. Die Grinder Stukkie van Girlie, en As ‘n Engel Val van Flintstoned.

Dit is al wat ek nou dadelik aan kon dink….. en die links kon opspoor, die huiswerk word net al hoe meer uitputtend!

Vrydagskool….Breindraf101

Eintlik is dit nie snaaks nie, maar mens kan nie help om te lag nie. Die hele land was in rep en roer oor vuurwapenlisensies, herregistrasies, deregistrasies, inhandiging van ongelisensiëerde wapens ens. ens. Dit maak ons land ‘n veiliger plek. Kriminele steel die vuurwapens wat so ongebruik rondlê. Alles goed en wel, ‘n mooi gedagte….. MAAR

Eintlik blyk dit dat die polisie nogal ‘n groot bron van vuurwapens vir die kriminele is. In 2007 en 2008 is ongeveer 4,400 as gesteel of verloor aangemeld deur SAPD lede, nog 2,900 in die nege maande Januarie tot September 2009. Hoe verloor jy ‘n wuurwapen?

Elk geval, niemand weet waar die wapens is nie, maar ek is taamlik seker dit is in die hande van ons kriminele vriende. Ek is ook taamlik seker hulle het dit nie met die onlangse “Handig-Ongelisensiëerde-Wapens-In” veldtog ingegee nie.

En wat gaan hierdie uitstappie kos – R16miljoen vir 4,000 nuwe Beretta’s op bestelling. Maar ek is eintlik moeg gekla oor al die kak en drama, kom ons gee die breine bietjie oefening op ‘n Vrydag:

Enige idees hoe hulle kan keer dat hierdie polisie-outjies weer hulle gewere verloor?

Miskien kan elke pistool ‘n lussie hê waarmee jy kom aan ‘n larnyard om jou nek kan hang :?:

Die Stad is Stukkend

Eendag lank gelede was daar is Stad wat trots aan die hoof van ‘n land gestaan het. Die stad het skoon strate en woonbuurte gehad (nie net die rondom die Uniegebou nie), waar Jakarandas trots in vroegsomer geblom het.

Vandag is alles gebreek en afgeleef. Onderhoud is ‘n woord wat uit die stad se woordeboek uitgeval het toe die woord partytjie deur tannie Ramakgopa ingevoeg is.

Die ANC het aangekondig dat dit prioritiet is om Pretoria se naam te verander voor die aanbreek van die Wêreldbeker Sokker in Junie.

Behalwe vir die feit dat ek nog steeds nie saamstem oor die geldmors aspek nie… is dit dalk beter so (stem ek saam met een van die kommentare in die Beeld), daardie plek wat op die oomblik daar staan, is nie die trotse naam van Pretoria werd nie.

WEW….2 van (ek weet nie, my calculator is gebreek)

Ek het so bietjie oor die volgende gewonder:

Haiti is deur die aardbewing getref, en die inwoners wat kon het dadelik ingespring en begin help met die reddingspong. Enigiemand sal, want dit raak mense om jou.

Maar wanneer, en hoe, kom jy op die punt, wat jou menswees en humanitiet in die agterkop weggebêre word en dit nou gaan oor jou eie oorlewing? Hoe maak jy die besluit dat jy nie nou meer gaan grawe vir oorlewendes onder die puin nie, maar dat jy nou aan jouself en jou eie behoeftes van oorlewing begin dink?

Is daar ‘n gemiddelde tyd wat iemand so iets onder tonne puin kan oorleef?Dryf jou grommende maag jou tot buitmaak, roof en diefstal? Hoe sterk is die instink om te oorleef – Sal jy kan moord pleeg?

Uitsig….Uitsug?

Hierdie was my uisig die grootste gedeelte van die naweek. Goed, nie heeltemal nie, want ek het nie die hele naweek lank Manhattan Murder Mystery gekyk nie. Kyk, ek het hulle deurgewerk – ‘Allo ‘Allo op BBC, flieks op die fliekkanale (Ingesluit City Slickers II, met ‘n baie cool animasie aan die begin van die fliek), Rugby en Krieket, America’s Got Talent, American Idol, Carte Blanche, Last Choir Standing ens. ens.

Snaaks genoeg is daar in sekere tydgleuwe soveel crap dat mens as ware opeindig met meer alleen en dinktyd as wat jy gedink het gaan gebeur

Die ander snaakse ding is dat ek nooit advertensies kyk nie. Ek het hierdie naweek probeer om die advertensies ook te kyk, juis omdat daar soveel kak op die ander kanale was, dat dit nie eers sou gehelp het vir jou om te surf nie, en van hulle was nogal oulik.

Ek het ‘n paar lesse geleer die naweek. Jy hoef nooit bekommerd te wees as jy die uitsending van ‘n program gemis het nie. Hy gaan weer iewers gewys word, meer as een keer, Carte Blanche het uitgewys hoekom ons nie moet wonder hoekom Eskom so pateties is nie, Land Rover het ‘n cool ad vir die Discovery 4, Jeep het ook ‘n cool ad van ‘n Wrangler in die woestyn…. en Survivor Santa Carolina het die mees irriterendste fokken advertensies ooit ( en dit is die tipe ads wat veroorsaak dat ek nie die goeies kyk nie).

PS. Ek het selfs in ‘n rare gebeurtenis dit op kamera vasgelê toe Mantu en Vroutu ook bespreek het hoe irriterend die Survivor advertensies is.

Woordspel…. Aas die foto’s

Uitdaging aan myself… ok, dit was 45 minute en nie 30 minute nie…. met Phibbie se onderwerp: Die aardbewing en nagevolge

Aas Die Foto’s

Ek is ‘n aasvoël. Yip, ek kan dit maar erken, want ek is een van die beste in my professie. Jy het nie ‘n kaggel vol beeldjies en pryse omdat jy gevoelig en sensitief is nie.

Die laaste na-skokke ruk nog aan die aardkors,en die stof van ingetuimelde geboue se gefrommelde steen en sement hang nog in die lug as ek met my kamera in die hand die strate invaar. My werk is dalk vryskut, maar my foto’s word binne ure opgeraap.

Dit is asof die wêreld se nuusagentskappe weet waar ek myself bevind, want my telefoon begin al klaar lui soos ek onderdeur die sproei van ‘n gebarste waterpyp deurdraf. Ek antwoord nie nou nie, maar die gepiep van boodskappe wat deurkom beteken net een ding: Hierdie aardbewing beteken ek gaan volgende maand eet.

Die verstikkende stof hang soos ‘n atoom-sampioenwolk bo die stad. Sirenes van brandalarms en karre en polisie en brandweer en ambulanse loei bo die geraas van metaal en baksteen en sement wat intuimel, en dan is daar nog die oneindigende gehuil en skrille skreeu van mense onder die puin. Daar is die geroep van mense wat klim en klouter en soek bo-oor die hope rommel wat geboue was.

Maar hierdie kakofonie van geraas is iets wat ek uitsluit en net in die verste verte hoor. Soos klank wat met die wind aangesweef kom. Terwyl die ander soek en smeek, huil en pleit, en stukke materiaal op wonde druk om bloeding te stop, moet ek klik. Ek mik en druk en vang die pyn en hartseer op foto’s vas. Verewig ge-ets in kleur, of swart en wit vir ’n dramatiese effek. Ek maak my hart koud en sluk swaar aan my menswees om die nuus in beelde vir die wêreld vas te vang. Om volgende maand se tandepasta en spaghetti te kan koop.

Daar is vroue met hande wat uitreik, en smeek dat ek help om hulle kinders onder stukke sement uit te grawe… en mans wat snikkend aan mekaar vasklou voor brandende geboue wat voorheen hul woonstelblokke was waarin hul vroue besig was om aandete voor te berei. Daar is nuwe wesies wat eenkant onder bome sit en teddiebere styf teen hulle borste vasklou. Oë groot en verskrik. Geluidlose traanspore op hul wange. ’n Bejaarde paartjie skuifel mekaar te gemoet, en ontmoet in ’n warm omhelsing van vreugde en oorlewing.

Ek beweeg om die hoek in die rigting van ’n ander buurt. As Moeder Natuur haar stem dik maak, word niemand oorgesien nie. Die rykes word nes die armes weer mens gemaak. Net mens. Gelyk. Wat ek gehad het, of wie ek was is nie van belang as Natuur haar kragtige stempel afdruk nie. Daar is geen omkoop om dit vry te spring nie, daar is geen jammerlike pleidooie dat jy nie nog sleg verdien nie. Die dokter en die tandarts en die besigheidsman, die kassiere en die boemelaar staan almal verdwaas in die straat. Saam sal hul nou weer as mense, deur die pyn grawe om mense op te spoor. Oorlewendes. Nie ryk of arm oorlewendes nie. Sommer net oorlewendes.

My ge-oefende oog en behendige vinger klik weer pryse los. Ek sien al die opskrifte bo en onder my foto’s. Ek proe al die oorwinning. Ek was weereens op die regte tyd, en op die regte plek. Ek skakel my kamera af en bêre hom in die drasak.

Nou is dit eers tyd vir die kille fotograaf om sy siel te ontbloot, sy hart te verwarm, en deel te hê aan operasie-menswees.

Vrydagskool…Rekeningkunde101

Ek het besluit om maar tog vandag die klaskamer oop te sluit. Ons kyk so bietjie na basiese rekeningkunde vandag.

Kom ons sê daar is hierdie Maatskappy X. X is landswyd operatief en is die enkele verskaffer van ‘n produk wat almal daagliks gebruik. X is dus in ‘n baie lekker posisie. X laat almal egter glo dat die veskaffing van daardie produk problematies kan wees as hulle nie pryse met 35% per jaar, oor die volgende 3 jaar mag verhoog nie, om bestaande infrastruktuur op te knap en nuwes by te bou.

Nou het ons Maatskappy Y. Maatskappy Y het kontrakte by X ontvang om instandhouding op huidige infrastruktuur te doen, asook werk vir van die nuwe aanlegte wat X beplan.

Nou het ons maatskappy Z. Maatskappy Z is die beleggingsarm van ‘n baie groot Groen-Geel-Swart Party. Maatskappy Z, as 25% aandeelhouer in Maatskappy Y, trek dus uiteindelik voordeel uit Maatskappy X se prysverhogings en uitbreidings.

So ja, ANC, ek as betaler van my elektrisiteits-rekening, het ‘n probleem daarmee dat jy 25% van Hitachi se aandele besit.