Archive | 8:04 vm

@#$&@$#%*!

28 Mar

Ek word nie eintlik kwaad oor onbenullighede nie, want ek glo dis verkwiste energie. Ek sal eerder diep asemhaal en op iets positief probeer konsentreer. Dit werk….

Tog is daar dinge wat wel ‘n bietjie kan krap, of irriteer –

  • Soos die Proteas se power vertoning Vrydag;
  • Soos om te lees dat amper 50 afgevaardigdes uit die regering op ‘n “werk” trip Amerika toe gaan en in plaas va sessies bywoon ‘n bietjie gaan inkopies doen en die naglewe van New York geniet;
  • Soos mense wat nie kan bestuur nie….
  • 

MAAR

As jy my bloed wil laat borrel tot die punt waar jy eiers in my hol kan kook, dan moet ek lees van gevonnisde, veroordeelde kriminele – thugs, wat kla oor die skending van hulle regte. Wat dit nog erger maak is dat die poephol onder bespreking, Mnr Krejcir,  nie eers ‘n Suid-Afrikaner is nie.

Ek kan net nie vat aan die feit kry dat enige misdadiger, ‘n persoon wat dalk gemoor of verkrag het, nog steeds dieselfde menseregte as ek kan verwag nie.

Jy kan iemand koelbloedig vermoor en dan aanspraak maak op ‘n regverdige verhoor, en ‘n prokureur en/of advokaat deur die staat verskaf as jy nie een kan bekostig nie. Dan word jy vir moord skuldig bevind as jy dit nie reggekry het om jou saak uit die hof te laat gooi nie. Sê nou maar lewenslank, want gelukkig kan jy nie die doodstraf kry nie as gevolg van menseregte. Nou kry jy vir ‘n maksimum van 25 jaar (want moontlik gaan jy na 15 jaar parool kry) gratis kos en verblyf (menseregte), EN nog verdere opleiding as jy so sou verkies (menseregte) EN gratis medikasie (menseregte) sou jy dalk siek word EN as daar ‘n verkiesing is mag jy jou kruisie trek (menseregte).

MAAR

Die swart vrou op die hoek moet probeer koerante verkoop sodat sy kan probeer spaar om vir ‘n diploma in te skryf. Hoekom probeer? Want sy moet ook kos koop, en taxi geld betaal om elke oggend tot daar te kom. En as dit reën vanaand is haar shack onder water en moet sy op ‘n nat bed probeer slaap, en hoop sy word nie siek nie, want dan moet sy in ‘n ry gaan staan vir tweederangse mediese hulp van ‘n Kubaanse dokter af…..

Die menseregte in Suid-Afrika is verwronge. Dit help veel dat Suid-Afrika wil aanspraak maak op die mees progressiewe menseregte in die wêreld, as ‘n krimineel agter tralies meer regte as ‘n wetsgehoorsame burger het.