Ek het nog altyd geglo dat my beskermengel lyk soos die foto wat ek in Rome geneem het. My beskermengel het Saterdagaand weer oortyd gewerk, en dit is slegs met ‘n wonderwerk wat ek nie dood, of in ICU opgeeindig het nie. Eintlik het ek absoluut niks oorgekom nie, vinnige reaksies en die feit dat ek nooit paniekerig raak nie, beteken daar is nie eers ‘n skrapie aan my kar nie.
Ek sal nou maar erken, September is nie my favourite maand van die jaar nie, nie eers die feit dat September lente aankondig kan die saak verander nie. Dit bly maar egter net persoonlike issues wat ek weldra sal uitsorteer. Wat ek wel weet is dat daai dag, drie jaar terug my lewe onherroeplik verander het. My letterlik in my comfortzone wakkergeruk het met die besef dat ek op geleende tyd hierdie aardbol bewoon. Saterdagaand was net nog ‘n klein remindertjie.
Elke sekonde, van elke minuut, van elke uur, van elke dag moet tel. Dit maak nie saak hoe sinneloos die taak mag voorkom nie. Hoe jy jouself as burger van ‘n maatskappy, stad, provinsie, land of selfs die wêreld gedra maak ‘n enorme verskil. Dit mag klein en nietig voorkom, maar glo my dit is die klein dingetjies wat deur die mense om jou gesien en onthou word.
Ons kom elke dag in aanraking met tientalle mense. Ons doen elke dag tientalle take. Dit vat niks van jou menswees weg om alles na die beste van jou vermoë te doen nie. Dit kos absoluut niks om die vrou agter die kasregister vriendelik te groet, en dan dankie te sê nie. Dit kos jou niks om die beste van elke gegewe dag te maak nie. Jy ontvang egter soveel meer, al is dit net jou eie glimlag voor jy gaan slaap in die aand as jy terug kan dink aan die dag, en weet die dag was ‘n goue medalje werd.
Hoe vinnig word ons nie verblind deur die soeke vir wat ons wil hê nie, eerder as om ongelooflik dankbaar te wees vir dit wat ons al klaar het nie. Besef jy ooit dat dit wat jy alreeds het, in elk geval tien maal meer is as wat miljoene daarbuite het? Hoeveel mense word nie daagliks in pyn agtergelaat in ons soektogte na dit wat ons glo ons beskore is nie? Nie ek, of jy, het die gereg om skaak met ander mense se gevoelens en lewens te speel nie!
Ek het hierdie dinge op ‘n harde manier geleer. Dit is nie nodig dat ‘n waardevolle lewe uit pyn en as gebore moet word nie, dit vat ‘n simpel wilsbesluit om daarna te streef om die beste persoon te wees wat jy kan, vir elke sekonde wat jy jouself nog op hierdie bolletjie, genaamd aarde bevind.
Onlangse ondersteuners: