Archive | 7:07 vm

Dinsdag Rymelary…

8 Jul

Dit is moeilik, om gepeper met werklikheid, positief te bly. Die goeie dinge in die lewe is nie altyd veronderstel om maklik te wees nie!

Duskant die Son

 

Stewig vasgegespe

Op vlerke van hoop;

Met oë gerig op die son

Na lewe onderkant die horison.

 

Sal ek vind utopia

Waar ‘n nasie se drome;

Vreedsaam gebou is

Op meer as onvervulde beloftes?

 

Sal ek vind utopia

Waar ‘n nasie se verdra;

So aansteeklik word

Dat kontinente sug oor hul tekort?

 

Sal ek vind utopia

Waar ‘n nasie se leiers;

Met voorbeeld dien

Sodat ‘n heelal se politici kan sien?

 

Sal ek vind utopia

Waar ‘n nasie se naam;

Getuig van demokrasie

Met diktators as die gehate spesie?

 

Sal ek vind utopia

Waar ‘n nasie se trots;

Vorstelik regop staan

Vasgeketting deur die woordjie saam?

 

Sal ek vind utopia

Eendag in die toekoms;

Oë stip gerig op die son

Bly ek heeltyd net duskant die horison.